GEORGE NUUS - Al het drie oud-Kwaggas, Gert van Tonder, Pieter Koen en Johan Botha, reeds 66 jaar gelede saam op dieselfde skoolbanke gesit, het hulle verlede week herinneringe van daardie tyd opgediep asof dit gister was.
Van Tonder (84) en Koen (84) wat beide hoë hoogtes in die musiekwêreld bereik het en Botha (82) wat sy merk gemaak het in onderwyskringe, het land en sand gesels.
Dit was 'n mini-reünie in die kleine. Hulle was in 1959 saam in matriek.
Saam met hulle was Chris Hattingh wat later jare diep spore as onderwyser by Hoërskool Outeniqua getrap het. Hattingh was onder meer onderhoof by die skool en het in 2023 aan die spits gestaan van die skool se baie suksesvolle 100-jarige feesvieringe.
Hulle het groot lof gehad vir die rol wat die skool in hul lewens gespeel het.
Hulle het onthou van die onderwysers en hul byname. So byvoorbeeld was daar wyle Alkie van der Merwe wie se bynaam Broodkas was. Hy het soms op die kinders geskreeu en hy is toe Broadcast genoem. In die volksmond het dit later Broodkas geword.
Van Tonder het destyds ook 'n trekklavier gehad. In 'n stadium het die nate begin lostrek en hulle het dit met maskeerband reggemaak.
Van Tonder wat oorspronklik van Bergplaas kom, het in sy latere loopbaan een van die bekendstes in die Suid-Afrikaanse musiekbedryf geword en was lid van die destydse Groep Twee. Hy was ook 'n gewilde televisie-aanbieder.
Hy het groot lof gehad vir die rol van die skool in sy vormingsjare en ook sy latere musiekloopbaan. Volgens hom is dit baie duidelik dat George oor die jare baie verander het.
Koen is gebore en getoë in George en het later self groot hoogtes as sanger bereik. In 'n stadium het hy sang aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en ook vir Kruik (Kaaplandse Raad vir Uitvoerende kunste) opgetree.
Botha het sy merk sommer gou as onderwyser gemaak en was reeds op 29-jarige ouderdom 'n skoolhoof in die Vrystaat.
Hy was destyds een van die jongste persone ooit om so 'n pos te beklee.
Hattingh het gesê die skool is trots op sy oudleerlinge en handhaaf graag kontak. "Outeniqua vergeet nooit sy mense nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’