GEORGE NUUS - Byna vyf jaar ná die tragiese dood van Shaun Syfers (35) van Pacaltsdorp, is sy swaer, Wayden-Lee Sauls, Maandag 27 Januarie in die George-streekhof volgens 'n pleit- en vonnisooreenkoms gevonnis. Sauls het onskuldig gepleit op 'n aanklag van moord.
Sauls (26), 'n inwoner van Rosedale en 'n eerste oortreder, het ingevolge die ooreenkoms skuldig gepleit op aanklag van strafbare manslag en vyf jaar tronkstraf gekry.
Dié vonnis is in sy geheel opgeskort vir vyf jaar. As deel van sy straf is hy ook tot drie jaar huisarres gevonnis en moet hy maandeliks 16 uur gemeenskapsdiens verrig.
Verder is hy verplig om verskeie rehabilitasieprogramme by te woon, en hy is onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Oorsprong van die voorval
Sauls het in die pleitooreenkoms erken hy het Syfers in die vroeë oggendure op Sondag 26 Januarie 2020 met 'n paal geslaan. Sauls was aanvanklik by die huis besig om na die kinders van sy suster, Jodene, en haar man, Shaun Syfers, om te sien.
Later het Jodene by die huis aangekom en hom oorreed om by hulle aan te sluit by 'n kroeg in Beachweg.
Konflik het tussen Sauls en Syfers in die kroeg ontstaan, waarna Syfers glo vir Sauls geklap het. Sauls het toe die kroeg verlaat. Syfers het hom egter agternagesit en aangerand. Jodene het probeer ingryp, maar Syfers het haar glo begin rondstoot en geslaan. Sauls het toe probeer om sy suster te beskerm en in die daaropvolgende struweling 'n paal opgetel.
Volgens sy eie getuienis het hy vir Syfers een hou met die paal toegedien.
Die polisie en ambulans is na die toneel ontbied, en Syfers is 'n paar dae later, op 1 Februarie, in die hospitaal oorlede.
Sauls is kort daarna by sy huis in hegtenis geneem.
Dwingende en wesenlike omstandighede
Luidens 'n voorvonnisverslag deur 'n maatskaplike werker, het Sauls berou uitgespreek en gesê dat dit nie sy bedoeling was om Syfers se dood te veroorsaak nie, maar eerder om sy suster teen verdere geweld te beskerm.
Behalwe die omstandighede waaronder die misdryf gepleeg is en die oorweldigende versagtende omstandighede, is die ooreenkoms tussen die verdediging en staat aangegaan. Na deeglike oorweging het die hof die ooreenkoms bekragtig.
Die saak het gedien voor streeklanddros Praglathan Govender, en Sauls is deur Winston Jansen verteenwoordig. Karin Barnard het vir die staat verskyn.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’