Update
GEORGE NUUS - Die tonge in Pacaltsdorp klap behoorlik ná 'n motorongeluk wat op Saterdag 4 Junie in Beachweg plaasgevind het.
Inwoners wil weet hoekom daar slegs 'n botsingsverslag geopen en slegs ligte beserings aangemeld is, terwyl Avril Muller (42) ernstige beserings aan sy bene opgedoen het.
Muller is tussen twee voertuie vasgepen terwyl hy besig was om sy vrou se BMW wat naby Hoërskool Pacaltsdorp onklaar geraak het, aan sy bakkie te haak om weg te sleep.
Volgens Muller se vrou, Nicky, het 'n groen Opel Corsa uit die rigting van George gekom en haar voertuig van agter met so 'n harde slag getref het dat dit haar man tussen die BMW en die bakkie vasgedruk het.
Hy moes Maandag 6 Junie 'n ses uur lange operasie ondergaan om twee frakture aan sy regterbeen met die hulp van penne te herstel.
Muller is 'n week gelede uit die hospitaal ontslaan. Hy herstel tans by die huis, maar kla van baie erge pyn.
Voorlopige inligting wat na die ongeluk vanaf Pacaltsdorp-polisie ontvang is, het daarop gedui dat slegs ligte beserings opgedoen is en dat drie voertuie, 'n wit Colt-bakkie, 'n grys-kleurige BMW en 'n groen Opel Corsa in 'n kettingbotsing betrokke was.
Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie het by navraag bevestig dat daar tot dusver geen kriminele saak geopen is nie.
"Ek sal aanbeveel dat die beseerde persoon direk met die stasiebevelvoerder in verbinding tree en die nodige opvolg gedoen word met betrekking tot die opening van 'n saak en die aanvanklike hantering van die toneel," sê Pojie.
Tongues are wagging in Pacaltsdorp after a car accident on Saturday 4 June in Beach Road. Residents wonder why only an accident report was opened and only minor injuries were reported, while Avril Muller (42) sustained such serious injuries to his legs that he had to undergo a six-hour operation. Muller was pinned between two vehicles while hooking up his wife's vehicle to his bakkie to tow away. Southern Cape police spokesperson Capt Malcolm Pojie confirmed that no criminal case has been opened.
Verwante artikel: Lang herstelpad wag na Beachwegongeluk
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'