Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Danksy Heinrich Muller, 'n 53-jarige inwoner van George se groot hart en omgee vir ander mense, is die kanse baie goed dat 'n groot deel van die reiskoste van Minke Janse Van Rensburg, se deelname aan die Wêreldkampioenskappe in Turkye in 2024 gedek gaan word.
Minke maak lank reeds groot naam as wêreldklas Downsindroom-swemmer.
Sy het al vyf wêreldrekords en vele internasionale goue medaljes agter haar naam. Sy het reeds gekwalifiseer vir die wêreldkampioenskappe in Turkye in 2024.
Heinrich, 'n bekende sportman en driekampatleet van George, het oor die jare verskeie kere deur sy sport 'n paar projekte aangepak om behoeftige mense en instansies te help.
In die verlede het hy byvoorbeeld al 'n Solo Vol Ysterman gedoen wat 3,9 km-swem, 180 km-fietsry en 42 km-hardloop beloop het. Voorts het hy ook 'n solo Comrades afstand van 90 km vanaf Plettenbergbaai na George afgelê vir 'n jeuginstansie.
In 2022 het hy 'n 20 km ope water swem te Swartvlei in Sedgefield vir Môreson Kinderhuis in George gedoen.
Die groot dag vir sy nuutste projek is Saterdag 4 November. Op die dag gaan hy poog om in een dag in ses binnelandse mere te swem. Die totale afstand van die swem is 10 km. Hy gaan tussen die mere met sy bergfiets ry wat 'n afstand van 100 km is. Elke swemtog is sowat 1,6 km.
Hy gaan 06:00 die oggend by die Wolwedansdam naby Groot-Brakrivier begin en laatmiddag by die seiljagklub in die Knysna Waterfront eindig. Die mere is Wolwedansdam, die Tuinroetedam in George, Island Lake Wilderness, Swartvlei en Groenvlei in Sedgefield en die Knysnameer.
Heinrich het gesê soos almal weet is reis- en verblyfkoste duur. "Minke kry geen finansiële bystand van buite instansies nie en ek het besluit om te probeer help. Haar ongelooflike storie en sukses in haar sport het my aangegryp," het hy gesê. Hy het haar al ontmoet en saam is hulle baie opgewonde oor die projek.
Hy vra dat die publiek hom deur donasies sal ondersteun wat dan gebruik sal word vir Minke se reiskoste en om te kyk of iemand haar kan vergesel. Hy hoop om R200 000 in te samel.
Die publiek is welkom om hom op Saterdag 4 November rondom 08:00 by die Tuinroetedam in George te kom ondersteun en ook vir Minke te kom ontmoet.
Hy sien baie uit na die geleentheid en is hard aan die oefen ter voorbereiding.
Heinrich Muller saam met Minke Janse van Rensburg.
Volgens Heinrich het die projek volle steun van Minke se ouers.
Minke se pa, Hennie het gesê hy is baie opgewonde oor die projek.
Die plan is dat die geld nie net vir Minke se reiskoste gebruik word nie, maar ook vir ander Downsindroom-swemmers.
Dis moontlik dat van hulle sal kan saamreis om in 'n aflosspan deel te neem. Die bydrae maak deure oop vir ander Downsindroom-swemmers. "Ons is baie dankbaar vir Heinrich se pogings."
Vir enige donasies kontak Heinrich by 082 375 4175.
VIDEO - Heinrich Muller gaan swem en fietsry vir Minke Janse van Rensburg:
Video: Eugene Gunning
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’