GEORGE NUUS - Die 30ste Optimum Meiringspoort-marathon, wat die afgelope naweek in De Rust plaasgevind het, het weereens bewys waarom dit een van die mees gewilde wedlope in die land is.
Meer as 3 300 atlete het ingeskryf en die gees onder deelnemers het gesorg vir 'n suksesvolle marathon.
Die borgefunksie het reeds Donderdagaand afgeskop waar die organiseerders van die geleentheid die borge bedank het en ook 'n spesiale medalje aan Leon Cohen oorhandig het wat aan al 30 marathonne deelgeneem het.
Bernard Delport, hoof van die reëlingskomitee, het met lof sy span bedank wat hierdie geleentheid so suksesvol gereël het. Hy het ook al die borge en die gemeenskap van De Rust bedank vir hul volgehoue ondersteuning.
Vroeg Saterdagoggend het duisende opgewonde atlete in die dorp bymekaargekom, waar hulle per vragmotor na die Meiringspoort-waterval vervoer is - die beginpunt van die 12.5 km-wedloop. Die 21.1 km het verder weg begin, met albei afstande wat by die NG Kerk in De Rust geëindig het.
Oudtshoorn Courant, onder die vaandel van Group Editors, was vanjaar weer 'n trotse borg en het hul eie waterpunt tydens die wedloop beman.
Die 12.5 km-wedloop het om 07:00 weggespring en atlete het met 'n luide gejuig die roete aangepak.
Lloyd Bosman het dit vanjaar sy missie gemaak om sy mede-atlete in sy stof te laat stik en die 21.1km-wenstreep in een uur oorgesteek (1:00:46:2). Hy het sy rekord van 2022 met 50 sekondes verbeter. Kort op sy hakke was Selwyn Matthews, wat die wedloop in 01:05:39 klaargemaak het.
Hoewel Francois Maquassa van Oudtshoorn sy tyd van verlede jaar verbeter het moes hy tevrede wees met sy derde plek op die podium. Hy het vanjaar die 21.1km in 1:06:44 voltooi - bietjie meer as twee sekondes vinniger as verlede jaar.
George Herald subredakteur Emsie Martin (63), het die afgelope naweek die Optimum Meiringspoort 12.5 km in ’n tyd van 01:56 voltooi. Saam met haar was haar dogters van links: Edith Martin (12.5 km 01:33), Francisca Zaaiman (21.1 km in ’n tyd van 01:47) en Stephanie Schutte (12.5 km 01:55). Foto: James Martin
Die uitslae is as volg:
21.1 km
Ope Dames
- Katelyn Wolff (01:22:43)
- Leilani Scheffer (01:23:09)
- Melissa van Rensburg (1:23:59)
70+ mans
- Johann Kotze (2:11:31)
- Herman Dekker (2:23:25)
- Steve Burbidge (02:40:04)
70+ dames
- Mariet Horn (02:14:53)
- Lida Olivier (2:23:48)
- Hanna Erasmus (02:34:42)
12.5km
Ope mans
- Bruce Maboza (00:39:52)
- Bernardo Fredericks (00:39:11)
- Werner Julies (00:41:12)
Ope dames
- Micke Janse van Rensburg (00:53:18)
- Louise Aucamp (00:57:05)
- Cornel Bekker (00:57:57)
Saam-saam maak hulle klaar.
Mans 70-79
- Attie Cilliers (01:03:48)
- Peter Jakoby (1:9:46)
- Eben Lotter ()01:20:58
- Koos Hanekom ( 1:22:35)
- Fred Olivier (01:25:20)
- Norman Newcombe ( 1:23:44)
Vroue 70-79
- Anne-Marie Stroebel (01:26:56)
- Michelle Whittington (01:27:51)
- Diana Venter (01:28:04)
Die oudste vroulike deelnemer was Beatrix de Villiers (82) en sy het die 12,5 km in 'n tyd van 02:00:56 voltooi. Die oudste mans in die 21.1km was Thomas Meintjies (03:09:04) en Dieks Theron 03:16:05 wat beide in die mans 80+ deelgeneem het.
Atlete het in goeie gees die marathon gehardloop.‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’