GEORGE NUUS - Die Sommer Net Ons-tak van die ATKV (Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging) beplan ‘n Leeskonferensie in Pacaltsdorp van 13 tot 15 April.
Dit sal onder andere ‘n skryfwerksessie en ‘n Doen en Leer-program insluit. Die teikengroep is ouers, onderwysers en leesondersteuners van verskeie skole en instansies wat nou betrokke is met leesondersteuning vir kinders.
Die doel van die projek is om ouers en ondersteuners en skoolassistente toe te rus met die nodige vaardighede om kinders se leesvaardighede te ontwikkel.
Die Leeskonferensie word aangebied deur Vriende van Afrikaans in samewerking met die Wes-Kaapse department van onderwys.
Sommer Net Ons is ‘n nie-winsgewende tak van die ATKV wat hoofsaaklik daarop fokus om Afrikaans en kultuur onder plaaslike agtergeblewe gemeenskappe te bevorder.
Die skryfwerksessie sal op Donderdag 13 April om 18:00 by Eagle's Nest plaasvind. Anzil Kulsen, die aanbieder, het al sowat 30 gepubliseerde kortverhale in tydskrifte, aanlyn en in voorgeskrewe bundels by uitgewers soos Lapa, MML en Best Books agter haar naam.
Sy het ook ongeveer 15 boeke (reekse ingesluit) wat bestaan uit kinderboeke (Lapa, Luca en NB), jeugromans (Lapa en Naledi) en twee volwasse romans (Lux Verbi) die lig laat sien. Tydens hierdie sessie gaan elke deelnemer die plot en genre van sy verhaal beplan, karakters skep en al die elemente van ‘n prosastuk prakties toepas en bespreek. Bywoning is beperk tot 20 persone .
Doen en leer-program
Op Vrydag 14 April volg die Doen en leer-program, ook by Eagle's Nest. Dit het ‘n holistiese benadering wat fokus op die ontwikkeling van taalvaardighede wat nodig is vir effektiewe leer.
Daar sal ook besoek gebring word aan twee skole in die area vir die oorhandiging van boektrommels. Bywoning vir program is beperk tot 30 persone.
Leeskonferensie
Die Leeskonferensie, wat 120 persone kan akkommodeer, word gehou op Saterdag 15 April. Die tema is 'Die ontwikkeling van kinders en hoe om gemotiveerd te bly in die onderwys'. Shireen Crotz van Vriende van Afrikaans (VVA) is die programdirekteur. Dit vind plaas van 08:00 tot 13:00 by Laerskool Pacaltsdorp.
Die programsessies is soos volg:
• Doen en leer-demonstrasie deur Dokka Swart
• 'Die inklusiewe klaskamer' aangebied deur Christien Neser (spraakterapeut, skrywer en leeskundige)
• 'Ons het elkeen ‘n storie' - Anzil Kulsen
• 'Die belangrikheid van voorlees' behartig deur Charedine van der Merwe (VVA)
• Motiveringsgesprek aangebied deur Rene Arendse (motiveringsafrigter)
Alle kleuter- en laerskoolopvoeders, ouers, aspirantskrywers en belangstellendes word genooi.
Kontak Beverley Mckelly by 071 604 2007 voor 5 April om te registreer vir bywoning van die onderskeie werksessies.
Navrae kan ook gestuur word aan sommernetonsatkv1@gmail.com.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’