GEORGE NUUS - 'n Lang, harde herstelpad wag vir Avril Muller (42) van Pacaltsdorp ná hy Saterdagaand, 4 Junie, tussen twee voertuie in Beachweg vasgepen is.
Muller se vrou, Nicky, vertel haar BMW het naby Hoërskool Pacaltsdorp onklaar geraak en haar man was besig om die voertuig aan sy bakkie te haak om weg te sleep, toe die ongeluk gebeur.
"Ons voertuie het langs die pad gestaan. Avril was tussen ons twee karre besig om die sleeptou vas te maak."
Sy sê 'n groen Opel Corsa het uit die rigting van George gekom en haar BMW van agter met so 'n harde slag getref dat dit haar man tussen die BMW en die bakkie vasgedruk het. Hy moes Maandag 6 Junie 'n ses uur lange operasie ondergaan om twee frakture aan sy regterbeen met die hulp van penne te herstel.
Muller is die bestuurder by 'n karwasonderneming in Pacaltsdorp. "Weens sy beserings en die operasie, gaan hy nog lank buite aksie wees," sê Nicky.
Voorlopige inligting wat Sondag vanaf Pacaltsdorp-polisie ontvang is, het daarop gedui dat slegs ligte beserings opgedoen is en dat drie voertuie, 'n wit Colt-bakkie, 'n grys-kleurige BMW en 'n groen Opel Corsa in 'n kettingbotsing betrokke was.
"Die insittendes het volgens rekord net ligte beserings opgedoen. Gevolglik is geen kriminele saak aanhangig gemaak nie, maar 'n botsings-verslag is geopen," het Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kapt. Malcolm Pojie, Sondag by navraag gesê.
Die Corsa wat in die ongeluk betrokke was.
Teen druktyd kon die polisie geen verdere inligting verskaf nie.
Avril Muller (42) herstel tans in die hospitaal.
A man from Pacaltsdorp, Avril Muller (42), is facing a long road to recovery after he was trapped between two vehicles in Beach Road on Saturday evening, 4 June. According to Muller’s wife, Nicky, her BMW broke down near Pacaltsdorp High School and her husband was hooking the vehicle to his bakkie to tow away, when the accident occurred. She said Avril was between their two cars when a green Opel Corsa came from the direction of George and hit her BMW from behind, trapping Muller between the two vehicles. He was hospitalised and had to undergo a six-hour surgery on Monday 6 June. Pins were used to repair two fractures to his right leg.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'