Gallery
GEORGE NUUS - Indien die eerste dag in gr. 1 'n maatstaf is vir die res van die jaar, het juffrou Hedy Koegelenberg se klas in Laerskool George-Suid (LGS) rede om breed te glimlag.
Die nuwelinge het hul kleurkryte uitgepak en stroopsoet sit en inkleur, terwyl ouers soene plant en huiwerig hul koebaai's sê.
Hier en daar herken maats mekaar van die speelterrein in preprimêr, maar die opgewondenheid van hierdie "nuwe bladsy" oorheers en vul die hele klaskamer. Vir een maatjie, Kara-Meij Barnard, was die tree na gr. 1 effens oorweldigend en juffrou moes aanvanklik bystaan met snesies en sagte woorde.
Skoolhoof Sas du Plessis het ouers reeds aan die einde van verlede jaar toegespreek en voorberei op die groot dag. "Ons onderwysers is spesialiste in kinderopvoeding, glo my, hulle is in veilige hande," het hy ouers gerus gestel.
Du Plessis het by navraag gesê sy skool het vanjaar, soos elke jaar, 'n fantastiese groep gr. 1-Loeries wat hul skoolloopbaan by Laerskool George-Suid begin. "Dit is 'n hoogtepunt om die leerders te verwelkom en ons besef opnuut dat ons met ewigheidswerk besig is. Die skool en leerders is geseënd met baie betrokke ouers en die meelewing wanneer die eerste tree geneem word na 'n wonderlike toekoms by LGS, is verblydend."
Du Plessis het gesê die kapasiteit is elke jaar tot die maksimum gevul en is hulle terdeë bewus van waglyste by LGS en ander skole waar leerders nog nie plasing ontvang het nie.
"Alle voorspoed aan alle gr. 1’s wat vandag hul skoolloopbaan begin het. Elke graadeen moet onthou dat ons hier is om te leer, maar dat speel steeds die belangrikste deel van leer bly. Geniet die nuwe ervaring, nuwe maats en fantastiese blootstelling."
Fotogalery: Laerskool George-Suid verwelkom Graad 1's
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'