Video
GEORGE NUUS - 'n Matrikulant aan Hoërskool Outeniqua, haar ma en haar sussie het 'n onvergeetlike twee weke in die stad van die engele beleef.
Anica Grobler (17) is een van vier talentvolle jeugdiges in Suid-Afrika wat die geleentheid aangebied is om in Los Angeles te dans en te modelleer tydens die internasionale SPiN (Society Performers in Nationals) LA-kompetisie wat jaarliks wêreldwyd talentsoekers lok. Sy is egter die enigste een van die vier Suid-Afrikaanse kandidate wat wel vanaf 17 tot 21 Januarie aan die gesogte kompetisie deelgeneem het.
Behalwe vir die ongelooflike ervaring om deur van die wêreld se bestes afgerig te word, was dié twee weke in die verre 'n tyd wat die drie Groblers nooit sal vergeet nie.
Die hoofdoel van die kompetisie is om agente se aandag te trek. Twee agente het met Anica kontak gemaak oor moontlike werksopsies in die toekoms - Coast to Coast van Kalifornië en Glickman Talent Management in Kanada.
VIDEO - Anica in aksie tydens die SPinLA-kompetisie
"Ek is baie opgewonde oor die moontlikhede, maar ek gaan vir seker eers my matriek voltooi," sê Anica.
Behalwe vir die modewêreld en uitvoerende kunste is Anica baie geïnteresseerd in skoonheidskunde, oftewel somatologie, en wil sy graag by Isa Carstens in Stellenbosch studeer. "Ons sal maar sien wat gebeur," sê sy heel wys.
Annien Grobler (links) en haar dogters, Anica (17) en Beunicke (11).
Wat 'n belewenis!
Anica is 'n hip-hop-danser van Dynamic Dance Academy, en sou nooit kon droom dat haar pad met mense gaan kruis soos Jack Griffo (The Thundermans), Joe Lorenzo (hoof- uitvoerende beampte van SPiN LA), Daynah Evans (bekende in die hip-hop en danskringe; choreograaf van die hoofvertoning tydens SPiN LA) en Holly Kennedy (Beverly Hills 90210) nie.
Danskoreograaf Daynah Cooper Evans (links) en Anica Grobler.
Die saadjie om aan SPiN LA deel te neem is deur die plaaslike sangonderwyser, Tashia Vermeulen-Olivier, geplant en Judy Westraad, 'n bekende in die plaaslike modelwêreld, het haar touwys gemaak met modellering en loopplankwerk.
Wanneer sy terugdink aan die twee weke is daar heelwat hoogtepunte, soos hul verblyf aan die legendariese Millenium Biltmore Hotel waar musikante soos Taylor Swift en Ed Sheeran hul musiekvideo's opgeneem het. Nog 'n wow-oomblik was 'n rit in 'n Cyber Truck, 'n Uberrit in 'n Tesla en hul besoek aan 'n ballonmuseum.
VIDEO - 'n Besoek aan 'n ballon-museum
En dan was daar die ongelooflike gesig van Groenland, wyd versprei onder die vliegtuig se vlerke, op pad na hul avontuur in die VSA.
Die Groblers het aan die legendariese Millenium Biltmore Hotel tuis gegaan.
Joe Lorenzo (SPiN LA:HUB) en Anica Grobler.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’