GEORGE - Passasiers op ‘n Kulula-vlug onderweg na George was Vrydagaand hoogs ontstoke toe die loods halfpad na George moes omdraai en terugkeer na die OR Tambo-lughawe in Johannesburg.
Die loods het die stomge-slane passasiers meegedeel dat hy geen keuse het nie aangesien die George-lughawe toegemaak het vir die aand.
Die uitvoerende hoof van Sanlam Trust, Berrie Botha van George was ook aan boord en sê hy het eers gedink die loods maak ‘n ‘Kulula-grappie’.
"Die vlug was geskedu-leer vir 17:40, maar is as gevolg van gure weer vertraag. Toe ons sowat ‘n halfuur later begin beweeg, moes ons wéér lank wag voor ons kon opstyg. Ons was seker al minstens 45 minute in die lug toe die loods dié skokaankondi-ging maak. Ek het regtig gedink hy maak ‘n grap, maar toe sien ek die son sit so wraggies ewe skielik aan my ander kant."
Berrie is ‘n diabeet en het nie sy medikasie by hom gehad nie aangesien hy net vir die dag opgevlieg het om sy TV-greep vir Ontbytsake op Kyknet te verfilm.
"Die loods het gesê die beheerkamer sluit om 20:00. Kulula het toe vir ons verblyf betaal en na ek my stem dikgemaak het, ook vir my medikasie."
Die passasiers het die volgende oggend 09:00 in George aangekom.
George-lughawebestuurder, Brenda Moses, sê die lughawensmaatskappy, ACSA, sowel as ATNS wat verantwoordelik is vir lug-kontrole, is altyd bereid om op bystand te wees vir vlugte wat laat inkom.
"ACSA het in oorleg en met die goedkeuring van al die lugrederye die George-lughawe se landingsure beding. Daar is ooreengekom dat die lughawe van Maandag tot Vrydag oop is tussen 06:30 en 20:00, op Saterdae van 09:00 tot 15:00 en op Sondae tussen 09:00 en 19:00.
"Ons is egter altyd bereid om later oop te bly en al wat die lugrederye moet doen, is om ‘n aansoek tot ATNS te rig, wat ons dan in kennis stel. Dit het nooit Vrydag gebeur nie."
Brenda sê hulle kan selfs op kort kennisgewing ‘n plan maak. "Ons het al die nodige noodpersoneel en voertuie reg hier by die lughawe."
Kulula-woordvoerder Heidi Brauer het die petalje afgemaak as ‘n ongeluk-kige sameloop van omstandighede. "Slegte weer het die vlug vertraag en toe dit uiteindelik kon opstyg, het swaar lugverkeer ‘n bottelnek veroorsaak en moes die vlug weer sit en wag. Die loods het egter die George-beheerkamer laat weet dat hy opstyg toe hy die eerste keer die groen lig gegee is. Inderwaarheid was die vliegtuig egter weer vertraag."
Prosedures geïgnoreer
Die woordvoerder van ATNS (Air Traffic and Navigation Services), Anna Sanfilippo sê alles kom neer op miskommunikasie. "Die regte prosedures is geïgnoreer. Die lugredery moet vir ACSA laat weet van die vertraging en dan moet ACSA vir ATNS laat weet. Aangesien die lughawensmaatskappy vir ATNS moet betaal, is dit hulle besluit om die laat vlug te aanvaar. Diensvlak-ooreenkomste is in plek en moet nagekom word. ATNS is nooit in kennis gestel van die laat vlug nie."
Berrie sê hy vermoed die lugdienste gee hulleself te min speling. "Hulle sny dit bitter fyn. Ons vlug se lan-ding was vir 19:30 geske-duleer - 30 minute is maar min voorsiening vir vertragings. Maar ek dink in hierdie geval was daar beslis meer as een skuldige party."
Artikel: Ilse Schoonraad