GEORGE NUUS - Die inwoners van Kraaibosch Village het op Woensdag 4 Desember 'n splinternuwe klubhuis ingewy.
Die ontwikkelaars, Cape Estates, het in Januarie vanjaar met bouwerk begin. So halfpad deur die jaar is 'n kommissie op die been gebring om die beplanning vir die meubilering en finale afrondingswerk te beplan.
Vrywillige inwoners het skouer aan die wiel gesit en 'n lys van behoeftes aan Cape Estates voorgelê wat goedgunstiglik ingewillig het om die kostes te betaal mits die meubels en ander benodighede van hoogstaande gehalte is.
Met daardie voorwaardes het die dames die bul by die horings gepak en man en muis is trots op hierdie nuwe fasiliteit wat in hul midde tot stand gekom het.
Die bekende Coffee Snobs van Mosselbaai het die gaste met hulle wonderlike musiek vermaak. Hoe later, hoe kwater.
Toe die innerlike na behore versterk is en die ou spiere geleidelik begin ontspan het, het die voete jeukerig geraak en kort voor lank het die eerste paartjie skuifel-skuifel tussen die tafels begin passies maak.
Die inwoners van Kraaibosch Village het op Woensdag 4 Desember 'n splinternuwe klubhuis ingewy.
Toe was die gort gaar en is daar met mening geskoffel, ge-two-step, polka en wals, die hele lot. Uiteraard was die aand veels te kort, maar ook maar goed so. Die verpleegpersoneel moes die volgende dag bontstaan om salfies te smeer en rumatiekpilletjies te voer.
Dis duidelik dat die ou mense ver van oor die muur is. Hierdie klubhuis gaan na behore vir sosialisering benut word. Almal sien uit na die musiekaand, braai, en vele ander geleenthede wat in die vooruitsig gestel word. George, wees gewaarsku, hier kom 'n ding!
Die ruim klubhuis gaan behoorlik benut word vir sosiale byeenkomste.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'