GEORGE NUUS - 'n Toekomsblik op Suid-Afrikaanse rugby is vandag, 21 Maart, en in die volgende paar dae by Hoërskool Outeniqua te sien waar die 28ste Kwagga Junior Rugbyweek plaasvind.
Dit het vanoggend, 21 Maart, begin en daar is ook wedstryde Saterdag en Maandag. Daar is altesaam 1 200 seuns, wat 33 skole en 60 spanne van o. 14 en o. 15 verteenwoordig.
Daar is spelers vanoor die land wat Kaapstad, Pretoria, Johannesburg, Stellenbosch, Oos-Londen, Secunda, Upington en Kimberley insluit.
Vandag word 30 wedstryde gespeel. Daar was al vroegoggend bedrywigheid by die skool soos die onderskeie spanne opgedaag het vir vandag se wedstryde. Benewens die spelers is daar ook afrigters/beamptes en ouers.
Dit was al vroeg warm en sommige van die toeskouers het lafenis in die koelte gesoek. Hannes en Karen Bester van Stellenberg het al die pad van die Kaap deurgery om hul seun Lauwrens Bester te ondersteun. Hulle het reeds vroeg onder 'n sambreel teen die warm son geskuil.
Besoekers is herinner aan die trotse rugbygeskiedenis van die skool.
By die tonnel onder die hoofpawiljoen was reuseplakkate van Duhan van der Merwe en Manie Libbok, wat al naam gemaak het op die internasionale rugbyveld. Beide is oudleerlinge van die skool.
Piet Cloete, hooforganiseerder van die toernooi, het gesê die toernooi het oor die jare gegroei. Toe dit die eerste keer aangebied is was daar net 10 spanne. Nou is daar 60 spanne.
Die toernooi het al meer as 30 toekomstige Springbokke opgelewer waaronder Libbok, Warrick Gelant, Akker van der Merwe, Faf de Klerk en Handre Pollard.
Cloete het benadruk dat dit 'n rugbyfees in die Suid-Kaap is en dien ook as voorbereiding vir die seisoen.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’