GEORGE NUUS - George-inwoner en kletsrymer Maxwell Matiwana, oftewel Max Gozo, is een van die deelnemers aan Seisoen 4 van die kykNET-speletjiesprogram, Kyk Wie Praat.
Hy sal komende Woensdagaand, 5 Maart, in die volgende episode van die program te sien wees.
Hy sê die kompetisie om vir die nuwe seisoen oorweeg te word was straf met meer as 600 inskrywings wat ontvang is. “Slegs 48 deelnemers het deurgedring om oor 13 weke mee te ding.”
Deelnemers is gekeur deur 'n 1-minuut video wat hulle moes instuur om hulle persoonlikheid bekend te stel. ’n Kortlys van mense is opgestel wat vir 'n video-onderhoud genooi is om die uiteindelike deelnemers te kies.
“Die vervaardigers het gesoek vir deelnemers wat vermaak en energie na die program bring,” sê Matiwana.
In die speletjie kom vier volwassenes teen mekaar te staan wat moet raai wat kinders op vrae in ’n vasvrakompetisie gaan antwoord. Hulle onvoorspelbare antwoorde lei tot heerlike komiese oomblikke.
Die wenner loop weg met 'n prys van R100 000.
Verfilming het in Desember verlede jaar by Atlantic Studios in Kaapstad plaasgevind, en die seisoen het vanaf 5 Februarie begin uitsaai. Die finaal word op 30 April uitgesaai.
“Om deel van die program te wees, was ’n ongelooflike ervaring,” sê Matiwane.
“Die energie op stel was fantasties, en die interaksie met die kinders het dit terselfdertyd vermaaklik en onvoorspelbaar gemaak. Hulle ongefiltreerde antwoorde het my laat lag én dink. Dit was ’n prettige, onvergeetlike ervaring, en ek het elke oomblik daarvan geniet.”
George Herald het verlede jaar oor Matiwane se musiektalent berig. Hy is ‘n boekhouer, maar het ook ontpop as ‘n gospelkletsrymer wat onder die naam Max Gozo optree. Hy skryf sy eie musiek.
Sien hom in aksie op die kassie Woensdagaand om 20:00 op kanaal 144.
Lees 'n vorige artikel oor Maxwell:
‘We bring you the latest Garden Route, Hessequa, Karoo news’