Gallery
GEORGE NUUS - Kinders van die gemeenskappe van Rosedale, Syferfontein en Reigerpark wat verlede week hulp ontvang het met die oortrek van hul boeke, het sommer self ingespring en die barmhartige samaritane begin help.
"Dit was vir my so pragtig," het Maggie Damons, projekbestuurder van "operasie boekoortrek" gesê.
Damons en haar kerkgroep van die Kerk van die Nuwe Testament in Pacaltsdorp reik uit na kinders wat nie bevoorreg is om aan die begin van die jaar hul skoolboeke met plastiek oor te trek nie.
"Die ouers het eenvoudig nie die geld vir so 'n luukse nie," het sy verduidelik. "Ons voel dit is nodig om vir die kinders ook hul trots te gee. Hulle verdien dit om ook met mooi oorgetrekte boeke te leer."
In die gemeenskappe waar die kerkgroep hul dienste lewer word daar dikwels ook kos aan die inwoners gegee. Damons hoop dat ander deur hul werk geïnspireer sal word en ook sal uitreik na gemeenskappe waar hulp benodig word.
Vir meer inligting kontak Maggie Damons by 078 701 7539 of stuur 'n e-pos na darciadamons@gmail.com.
Na die oortrekprojek was daar lekker kos vir die honger magies in Reigerpark.
Die jongspan staan nader.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'