GEORGE NUUS - Gesinne verbonde aan Kidstop, 'n Christelike nasorgsentrum wat in Borcherds geleë is, het die warm gloed van omgee beleef met 'n enorme uitreik van die nie-winsgewende organisasie Alive for Jesus.
Plaaslike besighede het hartlik hierin gedeel met groot donasies van kos, Kerspakkies en Bybels aan die kinders, sowel as noodsaaklike toerusting aan die sentrum.
Sowat 230 Bybels is aan kinders ouer as nege jaar uitgedeel, en Kerspakkies is saam met die kinders na hul huise gestuur. Hartman Slaghuis het 'n ruim skenking van maalvleis gegee en George Gas het 'n tweeplaatstoof en gassilinder teen kosprys aan Kidstop gebied.
Die plaaslike fotograaf, Deidre Cloete, het met haar kamera spesiale oomblikke tydens besoeke vasgevang.
"Die Alive for Jesus-span het elke kind se naam persoonlik in die Bybel en boeke geskryf," het Elmarie Malan, stigterslid van die organisasie, gesê. "As Christene weet ons dat die Bybels een van die kosbaarste items sal wees wat die kinders die res van hul lewens kan hê."
Alive for Jesus-span: agter (van links) is Pieter Dreyer van Zyl, Izak Andreas Malan, Elmarie Malan, Abraham van Zyl, Brunheide van Wyk, Marlene Van Wyk Fouche, Denise Saffy en Gené van Zyl. Voor (van links) is Peter van Zyl, Talya Fouche, Leeva Fouche and Mateo Fouche. Die fotograaf, Deidre Cloete, is ook deel van die span. Foto: Deidre Cloete
Kidstop is baie dankbaar vir hierdie uitreik waartydens hulle ook 'n splinternuwe Acer i7-skootrekenaar, sowel as drie toiletsitplekke vir hul badkamers ontvang het.
"Ons bedank die George-sakelui en al die individuele borge wat finansieel bygedra het, asook die 40-plus sakke klere en skoene wat van die publiek ontvang is," het Malan gesê.
Volg "Alive for Jesus" op Facebook en besoek hul webwerf www.aliveforjesus.com vir meer inligting, of kontak Elamrie by 082 412 8876.
• Kidstop-inloopsentrum (Kidstop Drop-In Centre) is 'n veilige ruimte vir kinders en jeugdiges van George. Dié sentrum in Borcherds bied ook straatuitreike en rehabilitasieprogramme aan. Kidstop is 'n projek van die sendingorganisasie Youth for Christ, en ontvang borgskap van die departement van sosiale ontwikkeling.
Kidstop se kok, Febe Bass, by 'n nuwe tweeplaat stofie vir hul kombuis. Foto: Deidre Cloete
Leeva Fouche (regs) en drie flukse helpers (van links) Peter van Zyl, Gené van Zyl en Talya Fouche help om die pakkies te pak. Foto: Deidre Cloete
Bybels is vir kinders ouer as nege jaar gegee, en Christelike aktiwiteitsboeke vir die kleuters.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’