Gallery
GEORGE NUUS - Kersfees is ‘n tyd van gee, omgee en samehorigheid vir talle gesinne en families. Vir diensorganisasies is dit ook ‘n tyd van uitreik na ander.
Twee niewinsgewende organisasies van hier - Love Looks Like Something en Migals Peaceful Safe House - het hul spesiale oomblikke saam met kinders van Golden Valley in Blanco en New Dawn Park in Pacaltsdorp met George Herald gedeel.
Die niewinsgewende organisasie Love Looks Like Something is die afgelope vyf jaar aan die woeker in Golden Valley, Blanco.
Hulle Kerspartydjie op Vrydag 20 Desember het gesorg dat sowat 650 kinders van die area ‘n onvergeeflike tyd geniet het. Kerspakkies, spelletjies, worsrolletjies en heerlike snoephappies het die kinders se dag opgekikker.
FOTOGALERY - Love Looks Like Something hou Kersfees saam met Golden Valley se kinders
Vrywilligers het handjie bygesit en gehelp om al die kleingoed besig te hou. Daar is ook vir elke kind persoonlik gebid. "Ons is baie geseënd met hulp van die gemeenskap," het Alette Marais, stigter van Love Looks Like Something, gesê.
Love Looks Like Something se Kerspartydjie op Vrydag 20 Desember het gesorg dat sowat 650 kinders van die area ‘n onvergeeflike tyd geniet het. Foto: Caroleen@BreathPhotographer
Hierdie diensorganisasie help ook twee keer per jaar – in Januarie en Julie – met skoolklere, reënbaadjies en skoolskoene vir die leerders van Kretzenshoop.
"Ons werk nou saam met die skool wat ons help om elke kind se spesifieke behoefte aan te spreek," het Alette gesê. Sy is ook baie opgewonde oor 'n splinternuwe projek, 'n kleuterskool en nasorgsentrum in Charlie Williamsstraat wat in die nuwe jaar gaan oopmaak. "Die bouwerk is amper afgehandel. Ons sal sowat 20 kinders kan akkomodeer."
Love Looks Like Something gee gereeld kospakkies aan bejaardes, hou daagliks 'n sopkombuis vir kinders van 14-jaar en jonger, bejaarders en sieklike persone. Hulle reik ook uit na troeteldiere wat gereeld kos by hulle kry en werk nou saam met die Tuinroete-dierebeskermingsvereniging.
"Die behoefte in Golden Valley is baie groot," het Alette gesê. "Alkohol speel 'n reuse rol in die sosiale uitdagings wat kinders in die gesig staar. Babas is op straat en mense het nie werk nie. Kinders maak dikwels nie die hoërskool nie. Soveel honde kry nie kos nie."
Kontak Alette by 063 771 7817.
New Dawn Park
In New Dawn Park, Pacaltsdorp, woeker Marileza Fortuin en haar span, Wendy Lombard, Rosina April, Suzaan April en Zenobia Frans, om die kinders van New Dawn Park ‘n heerlike Kerstyd te gee.
FOTOGALERY - Migals Peaceful Safe House hou Kersfees saam met New Dawn Park se kinders
Marileza se niewinsgewende organisasie, Migals Peaceful Safe House, het op 14 Desember ‘n onvergeeflike partydjie vir kinders van dié gemeenskap gegee. Dit het by Gloryland Evangelistic Ministries plaasgevind. Hierdie ministerie stel hul perseel gereeld beskikbaar vir die uitreikprogramme van Migals Peaceful Safe House.
Marileza se niewinsgewende organisasie, Migals Peaceful Safe House, het op 14 Desember ‘n onvergeeflike partydjie gehou. Foto: Verskaf
Kinders het ook baat gevind by ‘n werksessie, getiteld: “Ek neem eienaarskap van myself en van my woonbuurt”. Daar is gedans, gesing, geëet en lekker gekuier. Elke kind het ‘n Kerspakkie ontvang met donasies van spaza-winkels en privaat besighede vanuit Gqeberha en Mosselbaai. Wyksraadslid Theresa Jeyi en ‘n verteenwoordiger van die departement van sosiale ontwikkeling het ook die geleentheid bygewoon.
“Hierdie was ‘n vroeë Kerspartydjie vir die kinders met wie ons elke dag in die gemeenskap werk,” het Marileza gesê. Sy is reeds ‘n geruime tyd aan die gang in New Dawn Park.
Hul volgende beplande projek is ‘n treinrit vir die kinders en ‘n ete by MacDonalds op 28 Desember, om die jaar af te sluit. Dit sal net kan gebeur indien hul oor die nodige fondse beskik. Vir meer inligting kontak haar by 061 983 4459.
“Hierdie was ‘n vroeë Kerspartydjie vir die kinders met wie ons elke dag in die gemeenskap werk” - Marileza Fortuin. Foto: Verskaf
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’