GEORGE NUUS - Drie soorte kerries, koffie en koeksisters het gaste van Helpende Hand George-tak se Kerrie-en-Kuier-aand opgekikker. Hierdie geleentheid Vrydag 25 Oktober was 'n fondsinsameling vir die tak se studiefonds wat lenings aan plaaslike studente bied.
Daar is behoorlik gekuier, gelag en geëet tydens hierdie aand. Helpende Hand-streeksorganiseerder, Marlise Labuschagne, het almal bedank vir hul ondersteuning en hulp om drome te bewaarheid.
"Dit is ‘n belegging in die toekoms van ons land. Ons help om ons volgende leiers op te lei," het sy gesê. Die studente wat voordeel trek uit hierdie fonds voldoen aan spesifieke vereistes, waarvoor hulle moet kwalifiseer.
Die seremoniemeester, Jaco Koekemoer, het gesorg dat almal die aand geniet.
Onder luide gejuig het hy pryse uitgedeel, bieërs aangemoedig om die veiling te ondersteun en die fokus geplaas op die waarde van vrywilligers wat deur hande te vat, ‘n verskil maak.
'n Stillewe deur Anthony Noble (links) is aan Elandi Rautenbach (tweede van links) verkoop. Saam met hulle is Jaco Koekemoer (seremoniemeester), Tracey Weideman, Surina Raubenheimer, Regina Koekemoer en Amelia Lang.
Een van die hoogtepunte van die aand was 'n inspirerende boodskap deur die plaaslike kunstenaar, Anthony Noble, terwyl hy ‘n kunswerk voor almal se oë opgetower het. Dié skildery, sowel as ander items, is deur Jaco op ‘n prettige, unieke manier opgeveil.
Deur die loop van die aand was daar gelukstrekkings en vele wenners. Die watertandlekker kerries is deur Feedem voorberei.
'n Bestuurslid, Amelia Lang, som dié kuieraand so op: "Die vrygewigheid en omgee van die gemeenskap het my verbaas en dit het my opnuut bewus gemaak hoeveel mense, met goeie harte, daar om ons is."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’