Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Talle kerke regoor die groter George gaan komende Paassondag om 10:00 hulle kerkklokke vir drie minute lank lui.
Dit sal tydens moeilike omstandighede 'n uitdrukking wees van hoop en nuwe lewe deur Jesus se opstanding, sê ds. Francois Mulder, leraar van die NG Blanco-gemeente wat saam met ds. Pieter van Santen van die Tuinedal-gemeente op dié gedagte gekom het.
Maar vir Blanco-kerk om deel te wees van die inisiatief, moes Mulder sy kerk se kloktoring aandurf om te toets of hy die klok sal kan lui. Nadat die tou afgebreek het, het hulle die klok die afgelope paar jaar glad nie gebruik nie.
Toe hy Woensdag die sowat 50 trappies in die toring bestyg en uiteindelik die klok kon lui, was hy so opgewonde soos 'n kind. "Op pad boontoe het ek die gefladder van vlerke gehoor en het eers gedink dis 'n duif, maar toe sien ek 'n uil. Ek was verras toe ek 'n ent boontoe op 'n voëlnes met ses eiers afkom. Ek het die uil al in die bome hier rondom ons en op die kerktoring gesien. Dis baie spesiaal. Die eiers is vir my 'n simbool van nuwe lewe, die embriofase voor die geboorte soos daar vir ons nuwe geboorte is anderkant die graf deur Jesus se opstanding."
Klok in 1973 gemaak
Die kloktoring is in 1975 saam met die kerkgebou voltooi. Ds. JR Müller het die kerk se hoeksteen op 12 Oktober 1974 gelê. Op die klok is die datum 1973 gegrafeer en Mulder sê dit is waarskynlik van Europa af laat kom.
"Oom Martin Weideman, Tannie Annatjie, een van ons lidmate se oorlede man, het die kerk en kloktoring gebou en die klok geïnstalleer. Die boonste deel van die kerktoring het 1 ton geweeg en Oom Martin het dit opgesit met steierwerk en toue."
Mulder het alle kerke in die groter George genooi om Sondag saam klokke te lui. Die NG gemeentes van Uniondale en Herold asook vyf gemeentes in George het aangedui dat hulle gaan deelneem. In Blanco gaan die VGK en die Anglikaanse en Roomse kerke ook hul klokke lui.
"Ons wil hierdeur ons solidariteit en eenheid uitdruk. Ons is almal saam in hierdie moeilike tyd, maar ons kan feesvier omdat Jesus die dood oorwin het. Ons het 'n belofte van nuwe lewe. Die graf is leeg," sê Mulder.
Hy gaan in 'n voorafopgeneemde YouTube-kerkdiens Sondag 09:00 ook die pragtige 360 grade uitsig vanuit die kloktoring wys.
Kyk ds. Mulder se video hieronder waar hy bo in die kloktoring staan en die klok lui.
Die NG-kerk in Blanco.
Ds. Mulder het op 'n uilnes met ses eiers afgekom.
Die klok is in 1973 vervaardig en is waarskynlik van Europa af gekry.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'