GEORGE NUUS - Moenie moed verloor nie. Verál nie op 'n kat nie. Die gesegde lui nie verniet 'die kat kom weer' nie. Dit is 'n les wat Maritha Erasmus van Denneoord onlangs geleer het.
Haar wit, blou-oog kat, Skye, wat vir 30 dae lank weg was, is oor die naweek in 'n drein sowat 'n halwe blok van Erasmus se woning gevind.
Skye het op 12 Maart, twee weke ná Erasmus by haar ma in 5de Laan ingetrek het, weggehardloop na hy met een van die bure se katte baklei het. Sy mensma het egter nooit tou opgegooi nie en beslis alless in haar vermoë gedoen om hom te vind.
"Sommige nagte het ek tot 03:00 in die strate op en af geloop en soek, dan raak my ma briesend vir my," lag Erasmus. "Ek het selfs 'n diere-kommunikeerder, Antjie Canning-Rogers, uit die Kaap gekry om my te help. Aan die begin was ek maar skepties, maar sy weet beslis wat sy doen en het my gerusgestel dat Skye nog lewe. Ons het oral plakkate opgesit en ek het elke liewe dag na hom gesoek," vertel Erasmus.
Op Maandag 11 April is Erasmus egter met haar kosbare Skye herenig ná een van hul bure in Melkhoutlaan, se dogter Dunay Pretorius, vir Skye in die drein naby hul huis opgespoor het.
Dunay Pretorius van Laerskool George-Suid het vir Skye in die drein naby hul huis gevind.
Ek weet nie hoe sy hom daar gevind het nie, maar sy het vertel dat sy hom gehoor het en na sy gesukkel het om hom te red het hulle die DBV gebel vir hulp," sê Erasmus.
Die Tuinroete-DBV se veldinspekteur, Vanessa Lucas, het tot Skye se redding gekom en daarin geslaag om hom Vrydagnag, 9 April, uit die drein te haal. Sy het die kat se mikroskyfie geskandeer en vir Erasmus in kennis gestel dat Skye veilig by hulle is.
"Skye is 'n welsynskat en is baie skugter vir mense," vertel Erasmus. "Ek is so dankbaar vir almal wat my help soek het. Vir Coriza Vermeulen van Cat Garden Route, Annelie Strauss hier in Denneoord, my bure, vir Dunay wat vir Skye in die drein gevind het, my vriendin Barbara Meyer, Antjie die diere-kommunikeerder en vir Vanessa van die DBV met haar uithouvermoë van staal. Bitter baie dankie aan julle almal!"
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'