Video
TUINROETE NUUS EN VIDEO - Karoo Lusern van Oudtshoorn is die wenners van die eerste en tweede plekke in die Super Os-afdeling by die jaarlikse Suid-Kaapse karkaskompetisie.
Cornel Landman, eienaar van Karoo Lusern, het ook die eerste plek in die Konvensionele Karkas-afdeling by die Wes-Kaapse landbouminister, dr. Ivan Meyer, ontvang. Die pryse is op Donderdag 18 November oorhandig tydens 'n boeredagprogram by Roelcor in George.
Dit was die vierde jaar wat die kompetisie aangebied is en 23 opkomende en kommersiële boere het ingeskryf.
Die kompetisie vorm deel van die Wes-Kaapse Landboudepartement se afdeling landbouprodusenteondersteuning en -ontwikkeling in die Tuinroete en word aangebied in samewerking met die Suid-Afrikaanse Vleisbedryfmaatskappy (Samic). 'n Rooivleisprogram is in 2009 deur die afdeling begin en studiegroepe is met beide opkomende en kommersiële boere gevorm. Die doel is onder meer om genetika te verbeter.
"Dit is 'n belangrike program want dit praat met die boer wat op klein grond sit wat vir homself kos op die tafel wil sit, maar ook bykomende inkomste wil genereer," het Clyde Lamberts, die adjunkdirekteur van die afdeling, gesê.
Chris Ngeleza, Samic se nasionale bestuurder vir transformasie, saam met minister Ivan Meyer by Roelcor waar die karkaskompetisie plaasgevind het.
"Dit is verblydend om te sien dat kommersiële boere deur hierdie program verhoudinge met opkomende boere begin het om hul kennis te deel. Ons doelwit is om die program uit te brei. Die boere wat deel is van die program wil groei. Hoewell hulle grond min is, boer hulle intensief en pas bewaringspraktyke toe. Ons wil van die bestes in die land word."
Meyer het ná 'n toer deur die karkaskoelkas gesê hy het topkwaliteit gesien wat betref higiëne, produk en bestuur.
Hy het bekleomtoon dat ondersteuning, ontwikkeling, navorsing en opleiding in die sektor van kardinale belang is. Meer jongmense moet tot die landbou toetree en daar moet meer landbouskole opgerig word.
Video: Karkasse van Karoo Lusern wen pryse
Die landbousektor was die enigste wat stabiel gebly het gedurende die streng inperkings tydens die Covid-pandemie. Dit het in 2020 met 13,1% gegroei vergeleke met 2019. "As u nog ooit gewonder het of u nog moet boer, kyk na die syfers. Landbou is 'n sektor waarin 'n mens maar kan investeer."
In 2020 het die Wes-Kaap R78,68 miljard se gekombineerde landbou- en agriverwerkingsprodukte uitgevoer. Dit is 'n 24% toename vergeleke met 2019 se R63,23 miljard. "Dit bevestig die kritieke rol van landbou in die ekonomiese herstel van die Wes-Kaap," het Meyer gesê.
Frederick Brower (links), verantwoordelik vir vleisinspeksie en klassifisering by Roelcor, verduidelik die kwaliteite wat in ag geneem word.
'Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus'