GEORGE NUUS - Marehaan Hanna Lourens het in Mei haar BEd-onderwysgraad van Unisa by 'n gradeplegtigheid in Kaapstad ontvang. En nie sommer so nie - sy het 12 onderskeidings gehad!
Marehaan is 'n voorbeeld vir vroue wat groot drome het, maar nie die ideale omstandighede om dit te bereik nie. Want sy het oor baie jare vasgebyt en met deursettingsvermoë en harde werk haar droom bereik.
Sy het in 2015 met haar deeltydse onderwysstudie begin en dit voltooi terwyl sy as tuisversorger by Bethesda gewerk het. Sy het twee kinders, 'n seun en 'n dogter.
Sy geniet dit om met kinders te werk en om haar gemeenskap te dien.
In 2008 het sy as reservis-konstabel by Conville-polisie begin werk, waar sy vir meer as 10 jaar betrokke was. Sy het ook deur Famsa as geestesgesondheidvoorligter by Conville-kliniek gewerk.
Marehaan het deurgaans die ondersteuning van haar familie, haar ouma Ria Boesak, haar verloofde Jaco Duminy en die geestesgesondheid-verpleegkundige by Conville-kliniek, suster Fisher gehad.
Sy wil ander moeders aanmoedig om nie op te gee op hulle drome nie, want met God is alles moontlik.
Sy beoog om verder te studeer en kan nie wag om eendag - nie te ver in die toekoms nie - die rooi toga van 'n doktor in onderwys om te hang nie.
Marehaan se ma, Johanna Solomons, en haar verloofde, Jaco Duminy, het ook haar gradeplegtigheid bygewoon.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'