GEORGE NUUS - Daar is nooit 'n vervelige oomblik in die lewe van die sangpaar Jovan en Thelma Heyns - wat tussen optredes in Indië deurentyd werk aan 'n tweede en selfs derde loopbaan.
Thelma het na 10 jaar van deeltydse studies haar LL.B.-graad deur Unisa behaal wat spesialis vakke soos belastingswette, mediese nalatigheid en forensiese medisyne insluit.
Thelma vertel dit het goeie tydsbestuur gekos want tussenin het sy en Jovan baie optredes ingepas.
In 2016 toe sy eksamen moes skryf vir haar finale jaar het sy, Jovan en hul gebeurtenismaatskappy op kort kennisgewing die George-erfenisfees gereël en dit nogal met optredes van bekende Suid-Afrikaanse kunstenaars soos Johnny Clegg.
Vlieënier
Jovan ontbreek ook glad nie aan ambisie nie. Hy het sy visier gerig om 'n kommersiële vlieënier te word en het reeds genoeg ure, maar kry net nooit die tyd om die nodige eksamens af te lê nie. Jovan het 'n paar jaar gelede sy privaat vlieglisensie bekom.
Hy het ook by ER 24 gewerk nadat hy sy basiese opleiding voltooi het aangesien hy 'n groot passie daarvoor het om in die nooddienste te werk. Hy open eersdaags sy eie skool wat opleiding bied in noodhulp.
Gewild
Die Heyns-egpaar se sangloopbaan blom die afgelope paar jaar en hulle is in groot aanvraag by vyfsteroorde ondermeer die internasionale hotel groep, Hyatt.
Alhoewel hulle die afgelope vier jaar genader is om in Indië te gaan optree, kon hulle in 2016 nie die aanbod aanvaar nie weens 'n reeds vol program wat 'n klomp vooraf gereelde vertonings in Suid-Afrika ingesluit het.
Toe die aanbod weer verlede jaar aan hulle gemaak is, het Jovan en Thelma teruggekeer na Goa in Indië waar hulle vir vier maande die gehore by Grand Hyatt Goa gaan vermaak het.
Thelma vertel: "Hierdie jaar was daar 'n hele aantal wêreldberoemdes in die gehoor - mense soos Jason Derulo, Whiz Kalifa, Priyanka Chopra van Quantico-faam asook gewilde Bollywood akteurs soos Amitabh Bachchan, Shilpa Shetty en vele meer."
Harley
As gevolg van 'n druk program wat reeds in Suid-Afrika vasgemaak is, moes die duo ongelukkig weer opdeel met Thelma wat agterbly in Goa tot Maart en Jovan wat einde Januarie teruggekeer het Suid-Afrika toe. "So tussendeur die singery het ons darem tyd gehad om die area te gaan verken. Ons is baie lief daarvoor om met 'n Harley 'n rigting in te vaar en te sien waar ons uitkom." Jovan spot, "Ek smeek Thelma nou al maande lank om vir my 'n Harley Davidson te koop, maar sy wil nie."
Hulle deel graag hulle avonture op Instagram en Facebook met hulle volgelinge.
Verlang huis toe
Dit is nie net in Goa waar die twee gewild is nie. Thelma het die seisoen in Chennai aan die ooskus van Indië afgeskop waar sy vir 'n maand lank opgetree het en alhoewel hulle gesmeek is om Maart weer daarheen te gaan, moes hulle die aanbod weens ander verpligtinge van die hand wys. Thelma bieg, "Ek verlang te veel huis toe om nog verdere kontrakte te aanvaar."
Daar is tans vier hotelle wat hulle wil vasmaak om einde van hierdie jaar weer oorsee te gaan optree. Drie van hulle is in Indië en die ander een is in Abu Dhabi (Verenigde Arabiese Emirate).
Thelma vertel laggend, "Ons is mal daaroor om die wêreld te verken, dit terwyl ons kan doen waarvoor ons lief is. Ons vergeet nooit wat George en George se mense vir ons beteken het toe ons jare gelede begin sing het nie. Ons sal altyd terugkeer huis toe maak nie saak waar in die wêreld ons ons bevind nie."
Jovan en Thelma Heyns is 'n gesogte glanspaar wat met hul gesofiskeerde optredes steeds in groot aanvraag bly in Goa, Indië en Abu Dhabi. Tog bly George hul geliefde tuiste.
ARTIKEL: PAULINE LOURENS, GEORGE HERALD-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'