GEORGE NUUS - George se Wes-Kaap Jongboer van die Jaar-finalis, Mario Lombard, sê die kompetisie was ’n waardevolle ondervinding en die feit dat hy homself kon meet teen ander in die landboubedryf, het hom ryker en met nuwe planne gelaat.
Lombard is die bestuurder op die plaas Summer 16 naby Heroldsbaai waar daar tans 60 hektaar onder avokadobome is. Die Outeniqualand-boerevereniging het hom genomineer vir die kompetisie.
"Die hele ondervinding was baie aangenaam. Die beoordelingsdag, toe die beoordelaars die dag op die plaas spandeer het, was geweldig insiggewend.
"Die beoordelaars is kenners op hulle gebied en het indringend gekyk na wat ons doen. Hulle het uitstekende raad gegee, idees en verbeterings wat ons nou al op die plaas probeer implementeer.
"Ek sal enige jongboer aanbeveel om in te skryf vir die kompetisie. ’n Mens leer baie en dis ’n goeie manier om jouself te meet teen ander jongboere in die Wes-Kaap."
Hy het Summer 16 se span en eienaars bedank vir die geleentheid om die plaas by die kompetisie te kon verteenwoordig.
Lombard se vrou, Dalena, en hul vriende, Nina en Klaus Akker van Van Greunen-boerdery, het hom na die gala-aand verlede Woensdag, 11 Junie, vergesel.
Mario en Dalena Lombard (links) saam met hul vriende, Nina en Klaus Akker van Van Grenen-boerdery, wat hulle na die gala-aand vergesel het.
‘n Boer van die Hexriviervallei, Francois Rossouw, is aangewys as die Jongboer van die Jaar. Hy is van Mooigezicht Estates en boer met tafeldruiwe op 310 hektaar.
Volgens Jannie Strydom, hoof- uitvoerende beampte van Agri Wes-Kaap, is hy ’n dinamiese jong leier wat ’n sleutelrol in sy familieboerdery en gemeenskap speel. Hy gaan die Wes-Kaap by die nasionale Toyota SA/Agri SA Jongboer van die Jaar-kompetisie verteenwoordig, waar hy sal meeding teen die land se beste jongboere.
Mario (regs voor) saam met die ander finaliste en beoordelaars by die gala-aand.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’