Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Oewerstraat in Denneoord het Donderdagaand sy grootste Kersfeesgeskenk gekry.
Jana Human (7) 'n inwoner van die straat het leukemie en het die afgelope tyd behandeling in die Kaap ontvang. Inwoners van die straat het vanjaar hul beroemde Kersfeesliggies aan haar opgedra.
Donderdagaand net na 20:00 het sy uit Kaapstad in George aangekom. Sy en haar ma Petro was sedert September in die Kaap.
Inwoners en vriende het Jana Donderdagaand met verwelkomingsplakkate al van St Paulstraat af ingewag.
Colette Rossouw, 'n inwoner van Oewerstraat het gesê trane van blydskap het gerol. Daar was groot vreugde. "Dit was vir ons as inwoners 'n groot oomblik. Dit was een van ons wense dat Jana Kersfees by die huis moet wees."
Jana glimlag breed oor die hartlike verwelkoming wat inwoners van Oewerstraat haar gegee het.
Jana se pa Jaco Human het vanoggend gesê hulle was taamlik oorweldig deur die verwelkoming. Jana sal nou vir sowat twee maande tuis wees. Sy is tans op 'n "chemo-vakansie" van twee weke. Daarna volg 'n interimfase waartydens sy behandeling vir sowat vier weke in George en Mosselbaai sal ontvang.
Dan breek nog 'n "chemo-vakansie" van twee weke aan. Eers daarna sal sy weer terugkeer Kaap toe vir nog behandeling.
Volgens Jaco gaan dit goed met Jana. "Sy is weer kind en gelukkig."
Jana het ook twee ouer sussies wat sê hulle as familie is baie gelukkig dat sy Kersfees by die huis kan wees.
VIDEO: Jana Human (7) kry warm verwelkoming:
'n Groep inwoners het Jana met haar tuiskoms ingewag.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'