GEORGE NUUS - Die sanger-liedjieskrywer Jaid River se splinternuwe vier-snit opname (EP) Marionet word môre, 8 Augustus, saam met die amptelike musiekvideo vir die titelsnit vrygestel.
River, oftewel, Jeanlie Minnie, het in George grootgeword voordat sy na Pretoria verhuis het. Marionet volg na haar debuutalbum, Verlanger, wat in Februarie 2023 vrygestel is.
Met Marionet betree River ’n wêreld van karakters, simboliek en introspektiewe vrae oor menswees, vryheid en die keuses wat ons maak.
Die styl van die liedjies is narratief, en word saamgebind deur die tema van verbondenheid - aan mense, drome, vrese, en selfs aan idees oor wie ons behoort te wees.
“Ek hoop Marionet inspireer mense om te vra: ‘Is wat ek wil hê groter as my vrees?’ Ek glo ons almal het iets waaraan ons onbewustelik vas is - en ek hoop hierdie musiek help om ’n bietjie lig daarop te skyn. Dis musiek wat vra in plaas van sê, en ek dink dit is presies wat ek nou nodig gehad het om te maak.”
Volgens River is dit belangrik om bewus te raak van die denkbeeldige toue wat jou vasmaak.
“Weet hoe jy as persoon funksioneer en vanuit watter plek, en maak dan ’n bewustelike besluit oor waaraan jy jouself bind in die lewe,” sê River.
Jaid River Foto: GP van der Merwe
’n Studio-onderhoud met River deur Group Editors se aanlynspan volg later in Augustus.
Sy het intussen ’n paar vrae vir ons beantwoord:
Wat het jou vasgehou, wat jy moes losmaak?
Ek dink sonder om dit regtig te besef was dit ander mense se opinies en om mooi te kies wie se opinie en input ek voor vra. Ek dink as ’n liedjieskrywer/kunstenaar moet jy jouself toelaat om na ’n baie kwesbare plek toe te gaan om iets te skryf wat eg is, en as mens te veel begin omgee oor wat almal rondom jou sê en dink en doen begin mens onbewustelik terughou.
Hoe beskryf jy jou eie groei oor die afgelope twee jaar?
Ek dink met elke projek wat mens doen skuif die maatstaf hoër. Ek dink ek het geleer om myself nie te vergelyk met ander kunstenaars nie, alhoewel ek nooit sal ophou leer by die mense en musikante rondom my nie. As ek na elke projek kan sê: “Ek het die beste tot my vermoë gedoen,” dan is dit genoeg.
Waar bevind jy jouself tans? En is die musiekwêreld alles waarvan jy gedroom het?
Ek is steeds in Pretoria en gee musieklesse deur die week en werk aan my musiek en optredes tussen deur. Ek dink as ek terugkyk in my lewe was daar min dinge wat uitgespeel het soos ek gedink het dit gaan, maar ek sal ook niks verander nie. Die musiekindustrie is groter en kleiner as wat ek ooit kon droom, en ek het so baie amazing mense leer ken. Ek sien uit na wat nog voorlê.
Wat is jou uitdagings op die oomblik?
Ek sal baie graag meer vol band optredes wil doen, maar vir ons kleiner kunstenaars is dit soms moeilik om genoeg mense by ’n optrede te kry om dit gereeld te kan doen.
Beskryf ’n lekker oomblik of ervaring oor die afgelope jaar.
Sjoe! Ons het in die laaste jaar twee Singkamer-vertonings gedoen. Een by Atterbury-teater saam met Joshua Na Die Reën en nog een by Afriforum-teater saam met Leon Gropp. Die Singkamer is ’n projek wat ek, Thys Nortje en Jacob Funk (Jaco Smit) so ’n paar jaar terug gelaunch het. Dit is ’n musiekteater-vertoning waar ons van almal se oorspronklike musiek en ook ’n paar bekende covers heeltemal herverwerk en by so bietjie van ’n storielyn laat inpas.
Jaid River Foto: GP van der Merwe
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’