Update
GEORGE NUUS - ‘n Mosselbaaier met ‘n sagte hart het die wiel aan die rol gesit om vir die wyle Johan du Preez, ‘n bekende hawelose van George, ‘n gepaste afskeid te gee.
Du Preez is ‘n week gelede op 13 November in George-hospitaal oorlede nadat hy drie dae tevore, op 10 November, voor ‘n Go George-bus ingeloop het. Sy getroue hond, Fix, het intussen met die hulp van die Garden Route-dierebekermingsvereniging ‘n nuwe tuiste gevind.
André Pieterse, ‘n administrasie klerk by die Life Bayview-hospitaal in Mosselbaai, het geroepe gevoel om vir Du Preez ‘n eerbare vaarwel toe te wens.
Hy het ‘n fonds vir Du Preez se verassing gestig deur die BackaBuddy-befondsingsplatform. Die mikpunt is om R9 000 in te samel om Du Preez plaaslik te veras met ‘n gepaste gedenkdiens. Tans is sowat R500 vir hierdie fonds deur ‘n weldoener geskenk.
“Die wonderlike ding is alle donasies word direk deur BackaBuddy aan die diensverskaffer uitbetaal. Ons het ‘n baie goeie kwotasie vir ‘n verassingsdiens ontvang en hoop om Johan binne die volgende paar weke op ‘n eerbare wyse te groet,” het Pieterse gesê.
“Geen reëlings is in plek nie, dit hang af van die fondse wat ingesamel word. Ons het 3 tot 4 weke kans om dinge agtermekaar te kry.” Du Preez se liggaam word tans by die eenheid vir forensiese patologie bewaar.
Op ‘n vraag oor hoekom hy graag wil help, het Pieterse die volgende geantwoord: “Ek het Johan ‘n paar keer in George op straat met sy hond raakgeloop. Hy was altyd baie vriendelik met ‘n innemende persoonlikheid. Ek het geroepe gevoel om hier betrokke te raak.
"Die Here het met my gepraat. As dit iemand van my was wat so iets moes oorkom sou ek graag wou hê dat iemand ordentlik van die persoon afskeid neem. Ek is ongelukkig nie in ‘n finansiële posisie om dit self te doen nie, anders sou ek. Daarom vra ek hulp.”
Diegene wat graag die fonds wil ondersteun kan die skakel volg.
Vir meer inligting kontak Pieterse via WhatsApp by 082 267 7099.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'