GEORGE NUUS - Dr Angelique Coetzee, voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging wat op radio gereelde advies en opdaterings gee oor Covid-19, sê Suid-Afrikaners moenie hulle maskers te diep wegbêre nie.
Sy het vandeesweek aan George Herald gesê die volgende Covid-piek word in September verwag, gebaseer op die afgelope twee jaar se trajekte van die virus en wat die moduleerders voorspel.
"Ons weet nie wat in September gaan uitbroei nie. Dit kan 'n nuwe subvariant wees, dit kan hoogs onwaarskynlik dieselfde subvariant wees, maar dis ook nie onmoontlik nie. En dit kan heeltemal 'n nuwe variant wees."
Sy sê voorkoming - en dus ook die dra van gesigmaskers - is steeds die beste medisyne, en om in te ent, veral mense bo 50 of dié met chroniese siektetoestande.
"Dis 'n mite dat die virus in die meeste gevalle nie meer ernstige nagevolge het nie. Daar is steeds mense wat met ernstige Omicron in die hospitaal beland, maar ons sien tans net baie minder. Ons vermoed dat immuunsisteme op hierdie stadium nog antiliggame produseer, maar die data is baie duidelik dat die antiliggame in die geval van Omicron na tussen drie en vier maande begin afneem. So as jy natuurlike infeksie gehad het, is jy waarskynlik beskerm vir so ses maande en dan begin jou immuunsisteem afneem."
Sy sê verskillende onderliggende faktore kan bydra dat jou immuniteit vinniger afneem. Jong mense se immuniteit kan moontlik nog langer sterk bly. "Ouer mense wat dalk komorbiditeite het en nie vir hulle vaksienes of opvolge gegaan het nie, kan dink dat die Omicron wat hulle in Desember gehad het hulle fisies kan beskerm. Hulle mag dalk net verras wees dat dit nie die geval is nie."
Sy sê Covid-19 is nog nie endemies nie, maar word steeds as 'n wêreldwye epidemie beskou. "Die Wêreldgesondheidsorganisasie het nog nie hierdie klassifikasie verander nie. 'n Mens kan nie sê dit is endemies nie en dis nie soos 'n gewone griep nie."
Vlaag respiratoriese virusse
Hoewel die Covid-19-vlaag in Mei nie 'n noemenswaardige impak op mediese fasiliteite gehad nie, maar daar was 'n taamlike vlaag van respiratoriese virusse in omloop wat mense platgetrek het.
George Herald-joernalis Michelle Pienaar het met 'n dokter gesels wat gesê het daar is 'n tendens dat mense met Covid- of griepsimptome nie noodwendig hulleself vir Covid laat toets nie. Baie verkies om soos vir 'n griep tuis te bly en met bedrus en parasetamol te herstel.
Dit beteken dat daar moontlik heelwat meer Covid-gevalle is as wat aangemeld word. Dit is nie werklik moontlik om tussen Covid- en griepsimptome te onderskei sonder om spesifiek vir Covid te toets nie.
Siek kinders
Die respiratoriese virusse het ook vir 'n vlaag van siek kinders gesorg. 'n Ma wat met George Herald gesels het, sê albei haar kinders het in die hospitaal beland weens 'n adenovirusinfeksie en sy was verbaas om te sien hoeveel ander kinders met dieselfde probleem opgeneem is.
Volgens dr. Claudia Gray, 'n pediater van die Kinderallergiesentrum in Kaapstad, het respiratoriese virusse "baljaar" onder kinders nadat die Covid-inperkings gelig is. Volgens Gray was drie hoofkategorieë van virusse in omloop: Covid, die RSV (respiratoriese sinsitiaalvirus) en adenovirus.
Die Covid-kinders wat hulle gesien het, was sieker as wat hulle in die Desember-vlaag gesien het. Hierdie kinders ervaar 'n hoë koors vir twee tot drie dae met sinus- en verkouesimptome. Hulle herstel meestal binne 'n week.
Die RSV, 'n klassieke brongitisvirus wat baie slym in die neus en soms 'n koors veroorsaak, versprei binne 'n kort tydjie na die longe wat die bors dan laat toetrek. Wanneer dit gebeur, het sulke kinders mediese hulp nodig, sê Gray.
Die adenovirus het baie "gesigte" wat verkouesimptome, 'n loopmaag en oorinfeksies - alles op verskillende stadiums - insluit. Dit kan vir tot drie weke aanhou, volgens Gray.
Respiratoriese opnames hoër as vorige twee jaar
Mediclinic het 'n toename in die aantal (nie-Covid) respiratoriese toelatings in alle ouderdomsgroepe ervaar in vergelyking met die vorige twee jaar, en veral toelatings van kinders met RSV.
Dr. Gerrit de Villiers, hoof- kliniese beampte van Mediclinic Suider-Afrika, sê hierdie tyd van die jaar word beskou as RSV-seisoen en 'n toename in pediatriese toelatings word gewoonlik ervaar.
"Pediatriese respiratoriese toelatings weens RSV was beduidend laer in 2020, waarskynlik weens kontak wat beperk was by skole en kinderversorgingsfasiliteite toe die aanvanklike Covid-inperking ingestel is," sê De Villiers.
Hou inentings op datum
Hy sê ouers moet verseker dat hul kinders se inentings op datum is om hulle die beste moontlike kans teen sulke infeksies te gee. "Die griepinenting wat tans beskikbaar is, kan vir kinders bo ses maande gegee word. Respiratoriese virale infeksies is algemeen onder kinders en die meeste kan tuis bestuur word solank die kind genoegsame vloeistowwe inneem en hul temperatuur beheer kan word met 'n middel soos parasetamol.
"Kleiner kinders het natuurlik kleiner lugweë, en hulle kan sieker word as ouer, sterker kinders. Kry mediese hulp wanneer jou kind sukkel om asem te haal of as hulle nie kan eet nie."
Alle virale siektes verloop volgens 'n siklus en dit kan 'n week tot 10 dae neem voor algehele herstel. De Villiers sê kinders moet tuis gehou word terwyl hulle siek is. Wanneer jou kinders oud genoeg is, leer hulle om, net soos vir Covid-19, hulle hoes toe te hou, om sneesdoekies te gebruik en weg te gooi, en hande te was.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'