TUINROETE | KAROO NUUS - Die nasionale Kusa-hondeskou is weer die komende naweek, 9 tot 11 Junie, in Oudtshoorn.
Die skou word op Hoërskool Oudtshoorn se gronde gehou en toegang is heeltemal gratis.
Volgens Jeané Nel, van die George en Outeniqua Kennel-klub, gaan hierdie jaar ekstra spesiaal wees omdat Victor Lobakin, 'n internasionale beoordelaar wat al meer as 100 verskillende internasionale skoue in 36 verskille lande beoordeel het, vanjaar dié skou gaan beoordeel.
"Inwoners gaan dit geniet. Die mooiste opregte honde kan by die skou verwag word. Enigiets van 'n Maltees, Rottweilers, Duitse Herdershonde tot Engelse bulhonde en vele meer. Al wat ons van die toeskouers vra is om nie hul eie honde na die skou te bring nie."
Volgens haar gaan daar ook verskeie kosstalletjies wees.
"Ons wil hê mense moet verstaan dat so 'n skou definitief nie oor die aanhoudende teel van honde gaan nie. Die mense doen dit uit die liefde en passie vir die dier en wat die telings probeer suiwer hou."
Volgens haar word die honde se teelstandaard tydens die skou beoordeel.
"Dit hang af van die ras van die hond, maar daar is 'n sekere standaard waaraan elke ras moet voldoen. Dit is 'n ras-kampioenskou."
Ander beoordelaars is Stephenette du Toit, Patricia de Coning, Sue Impey en Maria Heneke.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’