Update Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Sonder water vir vier dae. Dit was die lot van 'n groep bewoners van 'n plaas in Hansmoeskraal - sowat 19 gesinne - wat van verlede Vrydag tot Maandagmiddag sonder water was.
Die groep woon in strukture op die plaas, wat bekendstaan as die "hoenderhokke". Van hulle woon reeds jare daar en het aan die vorige plaaseienaar huur betaal. Tans beset hulle egter die grond en die huidige eienaar, Jan Oosthuizen, neem geen huurgeld van die mense nie.
'n Klompie bewoners het hulle Maandagoggend na die departement van landelike ontwikkeling om hulp gewend, met die hoop dat hulle weer toegang tot water kan kry. Volgens hulle het Oosthuizen die watertoevoer met opset afgesny, om hulle aan te spoor om te trek.
Jan Oosthuizen het by navraag gesê dit is glad nie die geval nie. Volgens hom het die George-munisipaliteit sowat 'n jaar gelede 'n hofbevel ontvang wat hulle verplig om 108 000 liter water gratis aan die mense te verskaf. "Ek het toe 'n pre-paid watermeter ingesit sodat die hoeveelheid gemonitor kan word," het hy gesê. "Een van die ouens het 'n stukkie koperpyp, wat deel van die pypleiding was, probeer uitbreek. Die water het daar begin uitlek en opgedam. Ek het die bewoners daarop gewys dat die pyp stukkend is, en dat dit hulle verantwoordelikheid is om die pyp reg te maak. Hulle het nie dadelik daarop ag geslaan nie en teen verlede Woensdag was daar slegs 7 000 liter oor, teen Donderdag 2 000 liter en Vrydag was dit op. Toe hulle by my kla het ek hulle herinner dat hulle kan water koop, want dit is 'n pre-paid meter. Hulle wil egter nie daarvoor betaal nie."
Ernest Vorster, 'n aktivis vir plaaswerkers, het die groep Maandagoggend gehelp om water ter waarde van R200 (sowat 9 800 liter) te bekom. "Dit het 'n oproep na die boer gekos, deur 'n amptenaar van landelike ontwikkeling. Die boer het gesê as die groep betaal vir die water kan hulle water kry. Safau (South African Farms and Allied Unions) het vir die water betaal."
Volgens Oosthuizen behoort die water tot Vrydag te hou, wanneer die bewoners weer hul gratis water ontvang.
Kyk 'n video hieronder:
Die stukkende koperpyp is so op 'n manier deur die bewoners gelas met 'n pienk stukkie pyp, maar teen Dinsdagoggend was die krane weer leeg. Volgens Oosthuizen het een van die vroue 'n kraan oopgelos terwyl daar nie water was nie en toe na 'n kuiersessie gaan slaap.
"Toe die water weer aankom, kon die bewoners haar nie wakker kry nie en die deur was gesluit. Die nuwe kwota spoel toe by die drein af. Hulle het maar weer R200 gegee om water te koop."
Bewoners het die stukkende waterpyp met 'n stukkie pienk pyp (middel) gelas.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'