TUINROETE NUUS - Die kospotte is gereed by die NG-gemeente Herbertsdale se gewilde Oktoberfees wat vandag, Saterdag 19 Oktober, op die plaas Athlone van Eloff Muller plaasvind. Athlone is ongeveer 7km voor Herbertsdale.
Heerlike afvalpotte, skaapvleispotte en beesvleispotte is soos elke jaar deur hendrik Pienaar vir die geleentheid voorberei.
Die hoof attraksie gaan weer die vars vleis wees, wat teen baie billike pryse aangebied word. "U weet self hoe duur vleis tans is, en die Kersfeesseisoen is op hande! Kom koop vleis en maak u vrieskaste vol voordat die duur vakansie-seisoen u onkant vang."
'n Ander groot aantrekkingskrag is die heerlike kosse soos braaivleis, kerrievetkoek, roosterkoek, slap skyfies, pannekoek, basaarpoeding, koffie en tee. Die gebak is van hoogstaande gehalte en om die kleingoed besig te hou, is daar die kindertafel. Die marktafel bied baie om die spens te vul, sowel as lieflike geskenke vir die kerskouse.
Dit alles kan in die groot tent geniet word waar musiek ook vir vermaak verskaf sal word.
Verversings soos koffie en tee, pannekoek en kerrievetkoeke sal reeds vanaf 09:00 beskikbaar wees, maar die basaar begin amptelik eers 10:00 wanneer die produkte te koop sal wees. Die koektafel open reeds om 09:30 en die deure na die vleistafel maak om 10:30 oop.
Sportliefhebbers kan uitsien na toutrek.
"Kom geniet die dag saam met ons, en kuier saam met vriende wat u dalk daar kan raakloop." Vir navrae, kontak Lappies by 082 555 1466.
Moenie van die beesvleis vergeet nie.
Twee afvalpotte.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’