Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - 'n Jare lange droom het gistermiddag waar geword met die onthulling van "Ithemba - Place of Hope" in Stasiestraat. Dit is die naam vir 'n sentrum vir hawelose persone waarmee die organisasie Cremhog (Christian Rehabilitation Ministries to the Homeless of George) tans druk besig is.
Die sooispitseremonie is gister 23 November deur George-burgemeester, Leon van Wyk, waargeneem.
Ander rolspelers wat die geleentheid bygewoon het sluit in Cremhog-komiteelede, borge en voorbidders.
Nie alleen is die sentrum se planne onlangs goedgekeur nie, maar die bouery is klaar in aanvang.
Die fondament vir die mansslaapeenhede is klaar gegooi, en die res word volgende week voltooi. Daarna volg die houtwerk en fynere detail. "Ons beoog om 42 mense elke ses maande te akkommodeer," het André Olivier, algemene bestuurder van Cremhog, gesê.
VIDEO: Cremhog opgewonde oor sentrum vir haweloses vorm aanneem
"Ons wil kyk hoe ons elke persoon persoonlik kan help met dit wat hulle nodig het om 'n nuwe lewe te begin. Ons wil hê as hulle by daardie hek uitstap, het hulle nie nodig om weer strate toe te gaan nie."
'n Voorstelling van hoe dit uiteindelik gaan lyk.
Olivier het gesê ofskoon die sentrum nie 'n tronk is nie, en mense vryheid van beweging het, wil hulle die ouens van 18:00 snags tot middagetetyd die volgende dag besig hou.
"Hulle gaan vaardighede leer, tuinmaak, groentetuin bewerk en hul eie talente ontdek." Hy het gesê hawelose mense is almal se uitdaging en die gemeenskap se betrokkenheid is van groot belang.
Ouddominee Floors Meyer het gesê die sosio-maatskaplike nood is groot in gemeenskappe: "Ons leef in 'n ongelooflike gebroke samelewing waar mense stukkend is. Maar, daar is altyd hoop."
Vir meer inligting kontak Olivier by 082 551 8900 of stuur 'n e-pos na andre.olivier1962@gmail.com.
André Olivier (algemene bestuurder: Cremhog), oudpredikant Johan van der Merwe (Cremhog-komiteelid) en George-burgemeester Leon van Wyk.
Foto's: Michelle Pienaar
Oudpredikant Floors Meyer: "Daar is altyd hoop."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'