GEORGE NUUS - Lede van die George-sakekamer en verteenwoordigers van die stadsraad/munisipaliteit het op 12 Augustus ontmoet om te besin oor die pad vorentoe.
Die vergadering is onder meer bygewoon deur George-burgemeester Leon van Wyk, dr. Michelle Gratz, die waarnemende munisipale bestuurder, dr. Willie Cilliers, ondervoorsitter van die sakekamer en ander senior bestuurslede van die sakekamer.
Volgens Cilliers was dit op versoek van die munisipaliteit/stadraad. Daar was reeds 'n eerste ontmoeting op 22 Julie.
Cilliers het gesê die doel van die George-sakekamer is om die belange van alle besighede in die George munisipale gebied te beskerm asook om besighede te verenig in belangegroepe.
"Die plaaslike regering speel 'n groot rol in die daarstelling van ‘n groeiende inklusiewe ekonomie om sodoende werksgeleenthede te skep. Hierdie vergaderings is noodsaaklike om die rolle uit te klaar en saam te werk aan ‘n gemeenskaplike doel."
Die sakekamer het die volgende voorstelle as vertrekpunte voorgestel:
• Opstel van 'n memorandum van samewerking vir die pad vorentoe;
• Die daarstel van 'n rompslomp lessenaar in die sakekamer om alle sake wat besighede verhinder om sake te doen aan te hoor en deur te gee na die verwante departemente. Gereelde opvolging sal deur die sakekamer gedoen word en terugvoering sal aan besighede verskaf word;
• Voorstelle vir die daarstel van 'n private toerismeraad on toerisme in ons streek te versnel en
• Gereelde gesprekke tussen die besigheidsgemeenskap en plaaslike regering.
Cilliers het gesê hy is optimisties. "Die enigste wyse hoe 'n gemeenskap kan groei is deur saam te werk."
Van Wyk het Dinsdag gesê die ontmoetings sal voortaan op 'n gereelde basis plaasvind. Die plan is om 'n formele ooreenkoms te sluit dat beide belangeroepe bewus is van die verwagtinge.
"Die sakegemeenskap is 'n uiters belangrike rolspeler in George," het Van Wyk gesê.
IN SHORT:
Members of the George city council/municipality and the George Business Chamber recently met. Amongst other they discussed the way forward. The plan is that they would meet more often in the future.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'