GEORGE NUUS - Mediclinic George se verpleegster van die jaar is oorweldig deur die eer wat haar te beurt geval het.
Johdey Jené Arries, 'n Georgiet in murg en been, het gesê sy was eers in skok en toe het sy gehuil, nadat sy verlede week erkenning gekry het vir volharding en toewyding aan haar beroep.
"Ek kon dit nie glo nie, maar ek is verskriklik dankbaar teenoor my kollegas wat my genomineer het," het sy gesê. Arries is reeds vir die afgelope sewe jaar in verpleging.
"Verpleging was aanvanklik nie my eerste beroepskeuse nie, maar my ma het daarop aangedring dat ek verpleegkunde moet studeer," het sy gesê.
"Ek onthou die eerste dag toe ek as student in die hospitaal ingeloop het en die dag om gebid het, want waarin het ek myself nou bevind? Ek het gewens ek kon teruggaan skool toe, maar ek het ook baie vinnig my passie in verpleging gevind.
"Ek het my baccalaureusgraad by die Universiteit van Wes-Kaapland in 2014 voltooi en in November 2016 teruggekeer na George, waar ek in Mediclinic George se eenheid vir noodgevalle as professionele verpleegster begin werk het."
Op 'n vraag hoe sy oor haar loopbaan voel, het Arries geantwoord: "Almal het seker nou al oor en oor gehoor dat dit 'n baie uitdagende beroep is en nie 'n beroep vir sissies is nie, maar ek moet bevoeg, dit is ook die lekkerste, maklikste werk as jy menslikheid toon. Die beste deel van my beroep is die 'dankie' vanaf pasiënte en hul familie."
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'