GEORGE NUUS - Groenkloof-aftreeoord in George het onlangs die besondere voorreg gehad om die merkwaardige groep inwoners van 90 jaar en ouer te vereer. Meer as 100 inwoners in Groenkloof se aftreeoorde in die Tuinroete is 90 jaar en ouer, met vyf inwoners 99 en nege inwoners 98 jaar oud.
‘n Hoogtepunt van die byeenkoms was ongetwyfeld die teenwoordigheid van Jackie McKenzie (100) en die oudste lid van die groep, Lien Steyn (101), wat nederig getuig het dat dit slegs genade is wat haar so ‘n hoë ouderdom laat bereik het.
Die groep is getrakteer op ‘n smaaklike middagete by Groenkloof se nuwe restaurant, The Hub House.
Hulle vriendelike diens en pragtige dekor het die atmosfeer geskep vir ’n betekenisvolle byeenkoms vol dankbare stories wat inspireer.
Michiel Burger het die groep bemoedig deur ‘n gebed en voorlesing uit Jesaja 40. Hy het elkeen op ‘n persoonlike wyse verseker van Groenkloof se volgehoue ondersteuning, veral deur die werksaamhede van die Groenkloof Stigting wat daarna streef om die lewenskwaliteit van ons inwoners te verbeter.
Johan van Zyl, van die Groenkloof George Vereniging en voorsitter van die Groenkloof Glen-huiseienaarsvereniging, het almal hartlik verwelkom en eer betoon aan die merkwaardige groep.
Hy het sy waardering en dank uitgespreek teenoor die organiseerders van die geleentheid, Susan van Vuuren en haar span, die The Hub House-personeel, en die borge, Groenkloof Ontwikkelings.
Die oggend was gevul met die deel van herinneringe uit die verlede en die viering van ryk en betekenisvolle lewens.
Dit was ’n getuienis van die sterk gemeenskapsgees wat Groenkloof-aftreeoord definieer - ’n plek waar elke mylpaal waardeer word en elke individu gevier word.
Zirkia Buurman by haar ma, Lien Steyn (101) van Groenkloof Groot-Brakrivier.
Jacqueline MacKenzie (100) van Groenkloof George en haar skoondogter, Marlene MacKenzie, diep in gesprek.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’