Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Die Conville-gemeenskapspolisiërings-forum (GPF), asook lede van die buurtwagte en die gemeenskap, het Dinsdagaand, 3 Mei, tydens 'n imbizo by die Rosedale-gemeenskapsaal, 'n griefskrif aan die polisie oorhandig.
Lede van die groep het reeds verlede Woensdag, 27 April, tydens 'n vreedsame optog voor die Conville-polisiestasie, gepoog om die griefskrif te oorhandig, maar volgens 'n gemeenskapsleier, Lester Jansen, was daar geen seniorbeampte by die stasie beskikbaar om dit te aanvaar nie.
Die griefskrif bevat onder andere klagtes van disrespek teenoor die gemeenskap, geen tugstappe teen beamptes wat verkeerd optree nie, 'n tekort aan dienslewering en beskerming van die gemeenskap, geen plan van die polisie om bendes en moorde in die gemeenskap vas te vat nie, sake wat sloer of nie afgehandel word nie, dossiere wat verdwyn en telefone wat nie beantwoord word nie.
Die gemeenskap eis ook die onmiddellike bedanking van die stasiebevelvoerder en sy bestuur, sowel as die huidige GPF-voorsitter.
Pojie het bevestig dat die griefskrif ontvang is en dat aandag daaraan gegee sal word.
"Die Eden-gebiedskantoor het 'n petisie tydens 'n vergadering op Dinsdag 3 Mei in ontvangs geneem. Die bestuur bestudeer die inhoud en terugvoering rondom kwessies geopper sal direk aan die samestellers van die petisie gegee word," sê hy. Die polisie is 14 dae gegee om op die griefskrif te reageer.
VIDEO: Conville is moeg vir swak polisie diens
Na aanleiding van verlede week se protesaksie het Suid-Kaapse polisiewoord-voerder, kapt. Malcolm Pojie, gesê hulle respekteer die reg van die gemeenskap om met protesaksies te begin, solank dit op 'n ordelike wyse uitgevoer word soos voorgeskryf deur nie net die grondwet van die land nie, maar ook die grondwet en gedragskode van GPF's in die Wes-Kaap.
Maar, volgens Conville-GPF se Wilken Wiltshire, is daar telkemale probeer om hul griewe met die stasiebevelvoerder, kol. AB Kriga, te bespreek.
"Genoeg is genoeg. Ons het klaar onderhandel. Ons het al baie vergaderings met die polisie gehad, maar niks verander nie," het hy tydens die optog verlede week gesê.
Lt.kol. Lionel Kennedy ontvang die griefskrif van Conville-GPF se Wilken Wiltshire.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'