GEORGE NUUS - Diegene wie se voertuiglisensies op Maandag 31 Augustus verval, het na dié datum steeds ‘n grasietydperk van 21 dae, dit wil sê tot 21 September, om die hernuwings te doen.
Aangesien die sperdatum vir voertuiglisensies Maandag 31 Augustus is, sal die kantore môre, Saterdag 29 Augustus vanaf 08:00 tot 13:00 slegs vir lisensiehernuwings oop wees.
Na aanleiding van klagtes vanoggend oor die lang wagtydperk om lisensies te hernu het George-munisipaliteit die volgende verduideliking uitgereik:
Die aanvanklike sperdatum van 31 Augustus vir voertuiglisensies lei ongelukkig daartoe dat persone wie hul hernuwings tot op die laaste moontlike tyd uitstel in buitengewone lang rye moet staan.
Niemand word in hierdie stadium weggewys nie en daar word gepoog om soveel moontlik mense te help. Die aantal transaksies wissel tussen 700 en 1 000 per dag, ten spyte van die Covid-19 maatreëls wat in plek is. Die syfers wissel na gelang van die oortyd wat amptenare werk om die onderskeie transaksies vinniger af te handel.
Daar is vanaf begin Augustus tot op hede 19 755 transaksies afgehandel. Benewens die oortyd wat saans gewerk word, word daar selfs op Saterdae en Sondae gewerk om die geweldige toeloop van kliënte en voortspruitende transaksies af te handel.
Daar is slegs ‘n beperkte aantal transaksies wat daagliks gedoen kan word en word die hek gesluit wanneer die kapasiteit bereik is. Sommige kliënte verstaan nie hierdie proses nie en dring daarop aan om ingelaat te word, in die ry te staan en loop dus die risiko om nie gehelp te word nie.
Daar word konstant gepoog om soveel persone moontlik binne die gegewe tydperk te help, en al die nodige kennisgewings word vertoon sodat kliënte van die inligting kan kennis neem. Daar word ook versoek dat lede van die publiek gebruik maak van die Saterdae wanneer die kantore oop is om voertuiglisensie-hernuwings te doen, en word aangemoedig om ook die aanlyntransaksie-prosedure te volg.
Daar moet gelet word dat Stad Kaapstad asook ander omliggende munisipaliteite gedurende hierdie tyd met dieselfde uitdagings te kampe het. Ten spyte van die Covid-19 verwante uitdagings sal George-munisipaliteit voortgaan om alles binne sy vermoë te doen om die publiek so gou en bes moontlik behulpsaam te wees.
Vir meer inligting of hulp kontak 044 801 9310 of 044 801 9311 of stuur ‘n e-pos na mvr@george.gov.za.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'