Update
GEORGE NUUS - Oud en jonk het Sondag 18 Februarie op opblaasspeelgoed geklim en hul gate uit geniet in die getypoel by Heroldsbaai. Dit was die eerste getypoelpartytjie aan die Tuinroete.
Die opblaasspeelgoed het gedryf op goed wat gelyk het soos skilpaaie, haaie, swane, eende, bykans enigiets denkbaar. Daar was selfs 'n roomys. Dit was so suksesvol dat dit waarskynlik weer aanstaande jaar gehou gaan word.
Die eerste getypoelpartytjie is reeds verlede jaar in November in die Kaap aangebied. Daar is ook al ‘damdrywe’ gehou op onder meer 'n dam in Wellington.
Sondag was dit die Tuinroete se beurt. Die strand en die parkeerterrein by Heroldsbaai se getypoel was Sondag reeds van vroeg 'n miernes van bedrywighede. Talle mense het opgedaag en in baie gevalle moes die opblaasspeelgoed eers opgepomp word.
Heerlike pret in die getypoel by Heroldsbaai. Foto: Eugene Gunning
Ouers het met moeite hul kinders se opgewondenheid en entoesiasme onder beheer gehou. Omstreeks 09:30 het die groot oomblik aangebreek en daar was toe sowat 100 geesdriftiges in die getypoel.
Eenkant het lewensredders 'n wakende ogie gehou, maar gelukkig het hulle nie werk gehad nie.
Daar was tyd vir 'n vinnige foto van die aanwesiges in die getypoel. Afdrukke word van die foto's gemaak en te koop aangebied. Van die winste sal aan die Garden Route Swimming School geskenk word.
Onder die mense wat Sondag deelgeneem het was Minke Janse van Rensburg, die downsindroom-swemkampioen. Sy het dit baie geniet.
Yvette van Staden van George het haar twee dogters, Nieke en Enya gebring om in die water te baljaar. Yvette het gesê hulle doen dit vir die pret.
Yvette van Staden en haar twee dogters, Enya en Nieke, kort voor die begin van die geleentheid. Foto: Eugene Gunning
Daniela Sondagh, die organiseerder, kon Sondag nie ophou glimlag nie. Sy kon nie glo dat mense al van so vroeg aangekom het nie en sy was baie bly oor die groot klomp mense wat opgedaag het. Volgens haar was dit opvallend hoeveel families gekom het.
Sy het Maandag gesê een van die doelstellings van die partytjies is om mense bewus te maak van getypoele.
"Die see kan maar rof wees. Dis wonderlik dat daar 'n getypoel is waar mense die see kan geniet."
Sy het bygevoeg dat dit 'n groot voorreg is om te kan swem. Daar word gehoop om dit weer aanstaande jaar met die hulp van die gemeenskap aan te bied.
Gewoonlik word dit soggens vroeg gehou sodat ander gebruikers van die getypoele nie lastig geval word nie. Dit bied dan ook die geleentheid vir mense om die res van die dag te geniet.
Veiligheid by sulke partytjies is 'n hoë prioriteit. Kinders moet van hul ouers vergesel word.
Vorige artikel: Dis lekker by die see
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’