GEORGE NUUS - Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, kaptein Malcolm Pojie het gevra dat enige getuies wat die ongeluk vanoggend gesien het waarin 'n voetganger in Knysnaweg dood is, vir sersant John Boezak sal kontak by die George-speurdiens by 044 803 4715.
Die ongeluk het omstreeks 09:50 gebeur.
Die oorledene is 'n onbekende man en Pojie het gevra dat enigiemand wat kan help met die uitkenning van sy liggaam ook vir Boezak sal kontak. Alternatiewelik kan hulle Stop Misdaad bel by 08600 10111.
Volgens Pojie dui voorlopige ondersoek daarop dat die oorledene getref is deur ‘n gryskleurige Audi A-3 wat in die rigting van die Garden Route Mall gery het.
"Met die impak van die botsing is die oorledene se been van sy lyf afgeruk en etlike meters verder deur paramedici herwin. Die onbekende voetganger het op die toneel aan veelvuldige beserings beswyk."
George SAPD het ‘n strafbare manslag-dossier geopen vir verdere ondersoek.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'