STILBAAI NUUS - 'n Pa, ma en twee dogters is Vrydagmiddag 3 Januarie gered toe die see hulle by Sandstrand in Jongensfontein meegesleur het.
Kerneels Brummer het met sy branderplank uitgeroei toe hy besef daar is probleme en het die een dogtertjie veilig teruggebring strand toe.
Daarna het hy weer uitgeroei na die pa, ma en ander dogter om hulle by te staan terwyl hulle wag vir die NSRI.
Kerneels se vriend het ook uitgeswem om te help en kort daarna twee lewensredders van Jongensfontein.
Die NSRI op Stilbaai is 13:49 in kennis gestel en twee reddingswemmers het onmiddellik na die toneel gejaag, terwyl hulle reddingsboot op see na die toneel gejaag het.
Die reddingswemmers het hulle bereik toe hulle sowat 800 meter van die strand was en die ma wat op daardie stadium bewusteloos was, was op die een branderplank, terwyl die pa en dogter aan die ander branderplank gehang het.
Met die reddingsboot se aankoms was die groep al sowat een kilometer die see in en hulle het die gesin en die reddingswemmers opgelaai en is terug na die NSRI stasie in Stilbaai. Op die boot het die ma haar bewussyn herwin.
Die lewensredder en twee branderplankryers het self teruggeswem strand toe.
Die NSRI het mediese behandeling toegepas totdat hulle by die diensdokter in Stilbaai aangekom het.
Die gesin het almal wat hulle help red het uit die diepte van hulle harte bedank.
Die NSRI bedank die twee branderplankryers wat gehelp het met die reddingspoging en ook die goeie samaritaan wat die dogtertjie wat deur Kerneels Brummer gered het veilig by haar familie in Stilbaai te besorg.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’