GEORGE NUUS - ‘n Brand in Touwsranten gisteraand omstreeks 21:00 het ‘n gesin van ses dakloos gelaat. Jennifer Hendricks (43), haar drie kinders, kleinkind en haar oudste seun se lewensmaat het ‘n traumatiese aand agter die rug nadat ‘n brand by hul woning in Mountain View-straat uitgebreek het.
Die oorsaak van die brand is nog nie bekend nie.
Hendricks se buurvrou, Bernadine Wyngaard, het die gesin in hul tyd van nood bygestaan. Munisipale woordvoerder, Chantèl Edwards, het by navraag gesê die munisipaliteit se brandweerspan vir Wildernis was binne 16 minute op die toneel, met ‘n tweede voertuig knap voor 21:30.
Dit volg na bewerings dat die eerste brandweervoertuig geen water gehad het nie. Volgens Edwards is hierdie bewerings onwaar, en was beide voertuie vol met water.
Terwyl die gesin wag op noodbehuising is hul nood groot. Een van Hendricks se kinders is ‘n 16-jarige leerder van Hoërskool Parkdene, wat al haar skoolklere en boeke verloor het. Hendricks se seuns, Jonathan (24) en Ronaldo (18), Jonathan se meisie Nikka Taute (27) en hul seuntjie, Junior (10 maande), het dringend hulp nodig met klere, kos en enige vorm van huisraad.
Die munisipaliteit het intussen gehelp met matrasse en kos.
Kontak die gesin deur hul buurvrou, Bernadine Wyngaard, by 072 601 7177.
Die Hendrickse se huis in Touwsranten in ligte laaie.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’