Update
GEORGE NUUS - Die Johnson-gesin van Borcherds bly positief ná hulle al hul besittings verloor het toe hul woning op die hoek van De Villiers en Kroghstraat, Dinsdagoggend, 7 Junie, tot op die grond afgebrand het.
Geen beserings of sterftes is aangemeld nie.
Volgens Anthony Johnson, wat saam met sy vrou, Annalene, en hul vyf kinders in die huis gewoon het, kan hulle nie presies verklaar hoe die brand ontstaan het nie, maar daar word vermoed dat dit weens 'n elektriese kortsluiting was.
Niemand was in die huis tydens die brand nie.
"Ons het alles verloor. Gelukkig het ons tydelike verblyf by 'n vriendin wat so goed was om haar hart en haar deure vir ons oop te maak. Ons is dankbaar dat niemand seergekry het nie.
"Dis 'n groot skok vir ons, maar ons weet die gemeenskap staan agter ons en ons sal gou weer op ons voete kom," sê Johnson.
Volgens George-munisipaliteit se kommunikasiebestuurder, Chantèl Edwards, is drie kinders van die kinders jonger as 18.
Enige donasies kan by Outeniqua Plastics in Nelson Mandela-boulevard afgegee word of kontak vir Dewald Barnard by 083 573 8861.
Die gesin benodig klere vir Johnson en sy vrou, twee dogters (10 en 11), twee seuns (16 en 18), asook vir hul 27-jarige dogter. Enige ander donasies van boumateriaal, skryfbehoeftes vir die kinders, huisraad, kos of geld sal ook waardeer word.
Die Johnson-gesin bly positief ná hulle al hul besittings Dinsdagoggend, 7 Junie, in 'n huisbrand verloor het. Foto: Christo Gawie
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'