GEORGE NUUS - Die George Vryburgers-diensorganisasie het tydens die onlangse Burgerraad 2025-geleentheid by die ATKV Goudini Spa hul merkwaardige leierskap en dienslewering ten toon gestel, en met trots twee nasionale trofeë huis toe gebring.
Die korps is bekroon met die Basuin van die Jaar-trofee en is ook as die Aktiefste Vrouekorps van die Jaar aangewys.
Hierdie prestasies is 'n welverdiende erkenning van hul toewyding en harde werk in diens van die gemeenskap.
’n Groot mylpaal is ook bereik met die verkiesing van Marius Venter van die George-korps as die president van die Vryburger Omgeemense van Suid-Afrika.
Die Burgerraad, wat van 23 tot 25 Mei gehou is, was ’n spoggeleentheid wat deur meer as die helfte van die George-korps bygewoon is. In totaal is ses trofeë aan verskillende korpse toegeken, onder andere aan Worcester, Robertson en Ceres vir hul onderskeie bydraes.
Hildred Basset, stuurman van die George-korps, het gesê hulle is almal baie trots. "Twee van die vyf Vryburger-trofeë is veilig in George waar dit hoort. Ek wil graag aan almal baie dankie sê vir hulle harde werk.
"Die geleentheid was nie net ’n viering van prestasie nie, maar ook ’n bevestiging van die krag van samewerking, diens en leierskap.
"Die Vryburger Omgeemense van Suid-Afrika staan sterker as ooit, met George aan die voorpunt."
'n Klompie van die vroue saam by die toekenningsaand.
Marius Venter, verkies as die president van die Vryburger Omgeemense van Suid-Afrika.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’