Update
GEORGE NUUS - Die tandarts Ian Venter (47), wat tans tronkstraf uitdien ná hy vir 'n tweede keer skuldig bevind is aan seksklagtes waar minderjarige seuns betrokke was, het Donderdag 15 Augustus in die Thembalethu-streekhof verskyn op aanklag van minagting van die hof.
Venter het skuldig gepleit op die aanklag.
Tydens vonnisoplegging in November 2014, na hy die eerste keer skuldig bevind is, het streeklanddros Eugenia Jacobs, op 'n vraag van Venter se destydse regsverteenwoordiger, Braam Swart, gesê dat Venter nie met kinders óf in die omgewing van kinders mag werk nie.
Swart wou toe weet of Venter kinders mag behandel as die ouers hul kinders inbring en tydens prosedures insit, waarop Jacobs gesê het die wet is duidelik, hy mag nie.
In Mei 2017 is Venter by sy praktyk in die middedorp in hegtenis geneem ná dit aan die lig gekom het dat hy wel kinderpasiënte behandel het.
Hy het destyds getuig dat hy verbaas en geskok was toe die polisie hom in hegtenis geneem het. Hy het aangevoer dat hy nie geweet het dat hy nie met kinders mag werk nie.
Venter is deur landdros Clifton Maseti tot vyf jaar direkte tronkstraf gevonnis waarvan twee opgeskort is vir vyf.
Die oorblywende drie jaar word samelopend met sy huidige vonnis van drie jaar uitgedien. Dié vonnis spruit uit sy skuldigbevinding op 11 April 2018 na hy aan seksuele aanranding van 'n minderjarige skuldig bevind is. Hy het in 2015 'n 13-jarige seun, wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas.
Tydens verlede week se vonnisoplegging het Reinet de Waal vir die staat verskyn en Clayton Samson het Venter verteenwoordig.
Lees vorige artikels:
- Tandarts pleit skuldig op minagting
- Tandarts in hof vir minagting: Saak uitgestel
- Tandarts in hof vir minagting
- Tandarts kry drie jaar tronkstraf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'