GEORGE NUUS - Die George Lionsklub het drie jaar gelede ingegryp in die lewe van 'n pa van twee jong seuns wat 'n ernstige terugslag gehad het toe hy met nierversaking gediagnoseer is.
Frik du Preez (41) is reeds sedert die ouderdom van 18 jaar op chroniese medikasie vir 'n tipe leukemie, en dit was 'n groot skok vir die gesin toe hy in November 2017 hoor hy het nierversaking.
Hy en sy vrou, Lodyn, was in 'n doodloopstraat toe dit gebeur. Hulle kon nie 'n mediese fonds bekostig nie, en Du Preez kwalifiseer nie om deur die staat dialise te ontvang nie. Dit is omdat hy reeds 'n onderliggende siektetoestand het en omdat daar in daardie stadium geen vooruitsig was vir 'n oorplanting nie.
LEES MEER: Eden Lions help save a fathers life
Toe die Lionsklub deur 'n artikel in George Herald van Du Preez se dilemma hoor, het hulle dadelik 'n helpende hand uitgereik en die onkoste van sy dialise, ongeveer R20 000 per maand, vir drie jaar gedra.
"Ons het nie woorde vir wat die Lions vir ons beteken het oor hierdie drie jaar nie. Ons wil vir hulle baie dankie sê," sê Lodyn.
Frik ontvang drie dialisebehandelings per week. Dit is 'n baie duur behandeling en die gesin kan dit nie bekostig nie.
Lodyn, 'n boekhouer, is die hoofbroodwinner weens Frik se gesondheidsprobleme. "Hy probeer wat hy kan om sy deel by te dra in die huis, maar dit gaan maar nog straf. Ons was so dankbaar toe hy 'n deeltydse werk by Barkley and Oats Ingelyf gekry het, waar hy nou drie dae per week werk. Die werk het Frik weer laat voel asof hy sy deel kan begin bydra na amper meer as drie jaar," sê sy.
Daar is tans steeds geen vooruitsig vir 'n oorplanting nie. "Frik sal 'n beenmurgoorplanting asook 'n nieroorplanting moet kry. Dit sal egter van dieselfde skenker moet kom. Daar is een uit 'n miljoen kans dat dit kan gebeur tensy dit van 'n familielid is. Ongelukkig is daar mediese redes waarom sy broers nie geskikte skenkers is nie, maar ons gaan die opsie weer oorweeg om te kyk of 'n ander moontlike skenker nie gevind kan word nie."
Intussen het die dapper Du Preez's 'n 'Back-a-buddy'-rekening geskep waarmee hulle hoop om vir 'n jaar of langer geld in te samel om vir Frik se behandeling te betaal. Hulle hoop om in die loop van die jaar 'n mediesefonds-lidmaatskap aan die gang te kry asook om moontlik vir Frik 'n skenker te kry.
Mense kan hom ondersteun by www.backabuddy.co.za/champion/project/frik-du-preez.
Lodyn kan gekontak word by lodyndp@gmail.com.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'