GEORGE NUUS - ’n Skoot in die donker het vir Leigh Barnard (35) van Bridgeton in Oudtshoorn R20 000 opgelewer toe hy Woensdagoggend, 23 Julie, as die wenner van Kfm se gewilde 20K Pop Quiz aangewys is.
Leigh, wat daagliks pendel tussen Oudtshoorn en sy werk by die landdroskantoor in George, sê hy neem gewoonlik nie aan kompetisies deel nie, maar dié keer het hy homself sommer ingeskryf toe hy nie agter die stuur was nie.
“Ek kon nie glo toe ek net 15 minute later die oproep kry nie,” vertel hy.
“Hulle het die terme en voorwaardes verduidelik en toe moes ek wag om op die lug te gaan. Dit was natuurlik senutergend, maar ook opwindend om te weet ek het ’n kans om te wen.”
Een van die vrae waarop Leigh moes antwoord, was wie die wenner was tussen Suid-Afrika en Nigerië in die Women's Africa Cup of Nations halfeindstryd, en hy het dit reg gehad.
“Tussen al die vrae was daar een wat ek onthou het - daardie wedstryd. Die sportvrae kry ek altyd reg. Sport kyk is wat ek doen in my vrye tyd. Ek het so gehoop hulle vra nog sportverwante vrae!” sê hy.
Die gewilde ontbytprogram Darren, Sherlin & Sibs op Kfm 94.5 bied daagliks die 20K Pop Quiz aan in samewerking met Suzuki. Luisteraars kry die kans om tot R20 000 kontant te wen, en Leigh het vanoggend teen 06:42 presies dit reggekry.
Hy bedank Nicole Williams en Gerhard Julies, wat saam met hom in die motor was: “Hulle het my kalm gehou en letterlik oor die wenpaal gedra.”
Wat gaan hy met die geld doen? “Dit gaan grotendeels na Springbok-rugbykaartjies vir my en my metgesel!” sê hy met ’n glimlag.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’