Gallery Video
GEORGE NUUS EN VIDEO - Twee talentvolle seuns van Hoërskool George het uitstekend gevaar tydens 'n vaardigheidskompetisie van die Wes-Kaapse departement van onderwys.
Quintin Peterse (17) en Xavier Veale (17) se musiekonderwyser, Germaine Leonard, loop breë bors nadat beide in hul onderskeie afdelings presteer het.
Quintin het die afdeling vir kontemporêre instrumente met sy kitaarspel gewen en Xavier is aangewys as die 'Entertainer of the Day' vir sy sang in die afdeling vir kontemporêre sang.
'n Derde leerder van Hoërskool George, Genick Hendricks (17) was 'n finalis vir die afdeling vir besigheidstudies.
Die leerders en hul ouers het na Kaapstad gereis vir die kompetisie wat op Saterdag 17 September by Bellville Tegniese Hoërskool aangebied is.
Die kompetisie het ten doel om jongmense aan te moedig om 'n loopbaan in geskoolde ambagte en tegnologieë* te oorweeg. Hierdie is die eerste keer wat afdelings vir musiek deel van die kompetisie gevorm het. Leonard het trots vertel hoe Peterse wat nou 'n gr. 11-leerder is, hom reeds in gr. 8 dopgehou het wanneer hy kitaar speel.
"Hy het na my hande gekyk en dit nagemaak. Dit is die tipe talent wat hy het. Quintin en Xavier is lede van my skoolorkes, waar ons hierdie kinders se talente verder neem."
VIDEO: Jong kitaarspeler gesels oor sukses
Hoërskoolleerders van 30 skole regoor die provinsie het op verskeie gebiede meegeding, insluitend steenwerk, kabinetmaak en sweiswerk. Die kompetisie het die bou van baksteenmure, die skepping van meubels, die installering van sanitêre toebehore en die lê van vloere ingesluit. Leerders is vyf uur gegee om die take te voltooi.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'