GEORGE NUUS - Die reusebydrae wat Mervyn November (76), bekende in George en nasionale rugbykringe gelewer het, is opnuut in die kollig na sy dood op 8 Januarie.
Tydens sy begrafnis op Saterdag 18 Januarie, en 'n viering van sy lewe in Pacaltsdorp, is hulde gebring aan die man wat nie net as speler 'n impak gemaak het nie, maar ook as rugbyadministrateur.
Saterdag se geleentheid is bygewoon deur familie, vriende en talle mense uit die rugbywêreld soos Roger Daniels van die Protea Legends, Hennie Baartman, 'n vorige president van SWD-rugby en Jack Juries, 'n vorige kaptein van die Proteas wat saam met November gespeel het.
November, op sy dag 'n kranige losskakel met 'n giftige skopvoet, is een van min spelers wat met Protea- en Springbok-baadjies kon spog. As gevolg van Suid-Afrika se apartheidsbeleid, kon hy in sy speeldae nie 'n Springbok word nie. Eers later het hy Springbok-kleure saam met drie ander lede van Evergreens, Urwin da Silva, Awie Johnson en Christie Noble, ontvang. Die viertal maak vandag nog die klub trots.
Ingeligtes van daardie era is dit eens dat, as dit nie vir die rassebeleid van daardie tyd was nie, sou hy beslis die groen en goud oor sy kop getrek het.
Twee van sy seuns, Marvin en Niel, bygestaan deur 'n familievriend, Kidron Kaboni het tydens 'n gesprek met George Herald meer vertel van die man wat so 'n groot positiewe invloed op hul lewens gehad het. November is in Pacaltsdorp gebore en het in 'n goeie Christelike huis grootgeword.
Hulle was vyf susters en drie broers waarvan hy die jongste was. Dit was moeilike jare, maar hulle het kop bo water gehou. Later jare by Hoërskool George het hy ywerig deelgeneem aan rugby, krieket en atletiek. Volgens hulle was die 60's goue sportjare by die skool.
In 'n stadium het November SWD verteenwoordig by 'n SA skolerugbykompetisie in Groenpunt, Kaapstad. Hy het 'n rol gespeel in SWD se oorwinning van 9 - 6 teen WP.
Dit was die dae van rugby-apartheid en hy moes onder die vaandel van die SA Rugbyfederasie speel. Hy het vir die Proteas teen die Britse Leeus van 1974 en die Franse in 1975 gespeel en was ook 'n reserwe teen die All Blacks.
November, wat ook voorheen by die George-munisipaliteit gewerk het, het sowat twee jaar gelede 'n gesondheidsterugslag gehad.
November se eggenoot, Edna is reeds 12 jaar gelede oorlede. Hulle het vyf kinders, Niel, Nadine, Marvin, Jaunee en Byron.
Hy word oorleef deur drie seuns, twee dogters, skoonkinders en 12 kleinkinders.
Mervyn November as mens
Kidron Kaboni het November as 'n eerbare, gedissiplineerde mens beskryf. "Sy deelname aan rugby, krieket en atletiek het op skool van hom 'n nasionale rolmodel gemaak." Volgens Kaboni kon hy net sowel Springbok gespeel het.
Marvin het vertel dat hy gedissiplineerd en 'n goeie pa was. Hy het sy seuns aangemoedig om rugby te speel en al drie het uiteindelik op provinsiale vlak gespeel.
Daar is baie rugby in hul huis gepraat en hy was baie trots op sy Protea- en Springbok-baadjies. Sy benadering in die lewe was: "As jy dit wil hê, gaan haal dit."
Niel het gesê sy pa was 'n baie reguit mens. Dit het sy pa bietjie seergemaak dat hy nie destyds in sy speeldae vir die Springbokke kon uitdraf nie.
Byron, die jongste broer, het gesê hy gaan sy pa mis. "Hy was 'n baie groot rolspeler in baie mense se lewens. Selfs in Pacaltsdorp waar hy gewoon het, het hy 'n groot impak gehad."
Daniels het gesê November was 'n briljante rugbyspeler. "Hy was net aan die verkeerde kant van die geskiedenis en kon net sowel 'n Springbok geword het. Hy was hardkoppig in sy persoonlik lewe en ook op die rugbyveld. Hy het nooit tou opgegooi nie."
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’