TUINROETE NUUS - Mense wat belangstel om Sondag 24 September Erfenisdag behoorlik te vier, kry op die dag die geleentheid.
Gwaiingriviermond
'n Geleentheid word by Gwaiingriviermond gehou waar nie slegs seremonies gaan plaasvind nie, maar aanwesiges ook gaan moue oprol om die gebied skoon te maak.
Die geleentheid duur van 09:00 tot 13:00.
Blanche Benjamin, een van die organiseerders, het gesê almal is welkom om die geleentheid by te woon en die dag saam met die gemeenskap van Pacaltsdorp deur te bring.
Met die skoonmaak gaan rommel opgetel word en opdrifsels verwyder word wat tydens die afgelope naweek se stormstuwings uitgespoel het.
Ou tolhuis
By die ou tolhuis aan die suidekant van die Montagupas gaan Erfenisdagvierings nie tot een dag beperk wees nie, maar sommer 'n Erfenisnaweek word. Dit duur van Saterdag tot Maandag, 23 tot 25 September.
Gerda Stols van die Vriende van die Tolhuis het gesê die aktiwiteite sal elke dag om 10:00 begin. Saterdag tree die Donkiekar Boereorkes op. Daar is ook skattejag, bakensverf en vetkoek en maalvleis.
Sondag is tyd vir melktert en pannekoek. Daar sal voorts uitstallings van historiese kombuisgereedskap te sien wees. Maandag is daar veteraanmotors. Nasionale braaidag sal gevier word en die tolhuis sal pap en sous voorsien. Mense moet hul eie vleis saambring.
Almal is welkom by al die geleenthede.
Sy het benadruk dat die Montagupas aan die anderkant (noorde) van die tolhuis gesluit is, maar dat die pad vanuit die suide (George) gebruik kan word om die tolhuis te bereik.
Die Donkiekar boereorkes.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’