GEORGE NUUS - Die situasie in onder ander Hibuscus- en Missionstraat, Pacaltsdorp is weer onder beheer nadat inwoners van die informele nedersetting, Moeggeploeg vroeg vanoggend, 15 Januarie, die strate tydens ‘n proteasksie oor dienslewering versper het.
Kapt. Malcolm Pojie, die Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, het by navraag aan George Herald gesê die inwoners is ongelukkig oor diensleweringskwessies, spesifiek elektrisiteitsverskaffing. Die polisie se afdeling openbare orde (Pops) was op die toneel.
Athane Scholtz, ‘n kommunikasiebeampte van George-munisipaliteit, het die protesaksie bevestig en gesê polisielede, asook munisipale wetstoepassers, was op die toneel.
Die Go George-busdiens in die gebied was tydelik opgeskort, maar die gebeure het nie die verkeerslisensie-kantore geraak nie, aangesien dit nie in dieselfde area is nie.
Na verneem word het inwoners van Moeggeploeg reeds vroeg vanoggend minstens twee strate in Pacaltsdorp ingevaar omdat hul kwessies volgens hulle nie aangehoor word nie. Hulle het onder andere versoek dat elektrisiteitstoevoer na hul kragdrade herstel word nadat dit afgeknip is. Hulle het ook gevra vir meer werkende toilette.
Van die protesgangers tydens vanoggend se optog.
George Herald verneem daar is twee weke terug ‘n memorandum aan die George munispale bestuurder gestuur, waarop hulle blykbaar geen reaksie ontvang het nie.
Vanoggend het hulle versoek dat beide die munisipale bestuurder en die bevelvoerder van Pacaltsdorp-polisie na hul kwessies kom luister.
Volgens Jauque Goliath van Moeggeploeg, is die inwoners kwaad dat die polisie hul kragdrade afknip en “inkom in die woonbuurt en doen wat hulle wil”. Hy het gesê die inwoners het egter verdaag nadat die polisiehoof belowe het om daarnatoe te kom. “Nou sê hulle hy gaan nie meer kom nie. Die mense gaan dit nie verstaan nie.”
Goliath het gesê dat die leierskap nou eers weer gaan vergader omdat hulle verdere protesaksies wil vermy. Daar is ook aan die mense belowe dat die polisie ondersoek sal instel oor wie opdrag gegee het om hul kragdrade te knip.
Pojie het intussen bevestig dat die skare vreedsaam uiteen is en geen verdere optrede nodig is nie.
Die polisie hou die situasie dop.
Die polisie hou die situasie dop. Foto's: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'