GEORGE NUUS - Die lewe van een van George se glansrykste en gewildste vroue is Dinsdag 10 Mei tydens 'n hartroerende seremonie by Outeniqualand NG kerk in Sinksabrug vereer.
Ula (Ursula) Taute is op 3 Mei op 79-jarige ouderdom oorlede na 'n twee jaar lange stryd met melanoomkanker en hartprobleme.
Nie dat haar gesondheidsprobleme haar in dié tyd enigsins laat moed opgee het nie.
Inteendeel, Ula het elke dag, ongeag haar fisiese welstand, haarself aangetrek en versorg asof sy op die voorblad van Vogue sou verskyn!
Met haar kenmerkende rooipers bob-haarstyl en perfekte grimering, kon mens dié pragtige vrou nie miskyk nie. Sy het altyd minstens 'n dekade jonger gelyk en haar talle hegte vriendinne en vriende was dit eens dat daar nie sommer 'n liewer, mooier en dapperder vrou gevind sal word nie.
Sy het tientalle chemoterapiesessies ondergaan sonder om ooit te kla en was maar net te dankbaar dat haar hare nie te erg uitgeval het nie.
Ula se liefste enigste kind, Tessa Claassen en Ula se skoonseun, Conrad, sou sowat 'n maand en 'n half voor hulle mammie se dood haar trakteer op 'n heerlike vakansie in die Kruger-wildtuin.
Maar, Ula se toestand het versleg en die enigste troos was dat hulle haar kon bystaan en liefhê in Mediclinic George en ook in Groenkloof-hospitaal waar Ula gesterf het. Ula het ook 'n volwasse kleinseun en -dogter in Australië.
Ula, onder andere 'n bankier van beroep, was 'n bekende in die Gay 90's-kringe in George wat gereelde musiekblyspele ten bate van welsyn opgevoer het. Sy was 'n uithaler skiër, 'n bobaas tuinier en bekend as 'n uitstekende gasvrou.
Ula, 'n diereliefhebber by uitstek, was oneindig lief vir haar dierekinders wat deur die jare 'n Rottweiler, Janos, 'n wolfhond, Catherine, 'n eksotiese papegaai, bloot genaamd Voël en 'n eksentrieke kat, Trésor ingesluit het.
Sy het ook 'n wilde voëltjie toegelaat om sy intrek te neem in haar huis en hom selfs gehelp nesbou deur takkies aan te dra. Die voëltjie het mak geword en in die huis al agter haar aangevlieg.
Voël het in November 2010 in George Herald verskyn onder die titel 'Voël wings his way to love'.
Liefste Ula, jou pelle, familie en laaste hondjie, 'n Yorkie genaamd Opi, sal jou geweldig mis. Op jou afskeidsdiens het Opi almal se voete besnuffel in die hoop om jou te vind. Ons hoop jou hemel bestaan uit yskoue kwaliteit sjampanje en witwyn, warm, vriendelike mense, elegante 'bling' klere, liewe diere en pragtige tuine.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'